Die Nedbank-hardloopklub het die dienste van Matthews Temane, ’n voormalige langafstandatleet en ikoon in Suid-Afrikaanse atletiek, bekom.

Matthews Temane, ’n legende in Suid-Afrikaanse atletiek, gaan nou die volgende geslag langasems help ontwikkel. Foto: Gallo Images
Hy sal voortaan help om dié klub se atlete te ontwikkel.
Vir jonger generasies mag Temane se naam dalk nie ’n klokkie lui nie, maar ouer atletiekliefhebbers sal die dag van 25 Julie 1987 goed onthou.
In wat sedertdien beskryf word as een van die beste padwedlope wat nog ooit gehardloop is, het Temane, of “The Flash” soos hy ook bekend gestaan het, en Zithulele Sinqe mekaar behoorlik opgedreun in die Suid-Afrikaanse halfmarathon-kampioenskap, wat daardie jaar in Oos-Londen beslis is.
Hulle het voor weggespring en die eerste kilometer in net 2 minute, 39 sekondes kafgedraf. Teen die 5 km-merk was Temane, Sinqe en Jan Tau die pasaangeërs met ’n tyd van 13:44.
Die 10 km-merk is in 28 minute, 7 sekondes bereik, wat ’n Suid-Afrikaanse rekord op sy eie vir daardie afstand kon wees.
Dit was egter Temane en Sinqe wat later weggebreek het van die res en in ’n tweestryd soos min gewikkel sou raak.
Kop-aan-kop het hulle mekaar op die promenade na die wenstreep gejaag.
Temane kon eindelik sy lyf net-net voor kry om te wen, maar albei dié atlete is ’n tyd van 60 minute, 11 sekondes toegeken.
Sy kennis van die sport sal positiwiteit en kundigheid tot die ontwikkeling van ons atlete bring
Vandag klink dié tyd dalk nie so indrukwekkend nie met die huidige wêreldrekord wat immers 57:32 is.
In 1987 het die wêreldrekord egter aan Michael Musyoki van Kenia behoort. Sy tyd was 60:43, ’n volle 32 sekondes stadiger.
Steve Moneghetti van Australië sou eers in 1993 in 60:06 weer ’n vinniger tyd as Temane-hulle behaal.
Ongelukkig, weens die apartheid-boikot in wêreldsport, is dié tyd nooit amptelik erken nie.
Temane se loopbaan as atleet sal altyd gekenmerk word aan sy veelsydigheid.
Hy het wêreldklastye in die 1 500 m, myl, 2 000, 3 000, 5 000, 10 000 en natuurlik die langer padwedloop-items agter sy naam geskryf.
Teen die einde van sy loopbaan het hy met 17 Suid-Afrikaanse titels gespog, insluitende in landloop en padwedlope.
Temane (60) sal nou by Nedbank se hardloopklub, wat in Klerksdorp gesetel is, aansluit waar hy en Pio Mpolokeng,’n voormalige wenner van die Durban-marathon, met belowende atlete sal werk.
“Dit is wonderlik dat ’n ikoon soos Temane kragte saamspan met die Nedbank-hardloopklub,” sê Nick Bester, die nasionale spanbestuurder.
“Sy vertonings spreek boekdele. Sy kennis van die sport sal positiwiteit en kundigheid tot die ontwikkeling van ons atlete bring. Ons is opgewonde om te sien dat dit ’n verskil maak.”