Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Net 15 atlete haal ASA-standaarde

Suid-Afrika sal eersdaags sonder twee van sy verdedigende wêreldkampioene na die Internasionale Vereniging van Atletiekfederasies (IAAF) se Wêreldkampioenskappe in Doha opruk. En anders as twee jaar gelede in Londen, lyk die hoop op ’n goue medalje tans moontlik na wensdenkery.

Luvo Manyonga sal vanjaar Suid-Afrika se enigste atleet wees wat sy wêreldtitel in die Wêreldkampioenskappe in Doha sal verdedig. Foto: Gallo Images

Wayde van Niekerk is nie beskikbaar vir die byeenkoms wat op 27 September in Katar begin nie, terwyl die IAAF en ’n Switserse regter ’n stokkie voor Caster Semenya se deelname gesteek het.

Albei dié atlete het in 2017 heel bo op die podium gestaan nadat hulle onderskeidelik in die 400 m en 800 m koning gekraai het, terwyl Van Niekerk boonop silwer in die 200 m en Semenya ’n brons in die 1 500 m verower het.

Vanjaar sal dus net die twee oorblywende Suid-Afrikaanse medaljewenners in Londen, Luvo Manyonga (goud) en Ruswahl Samaai (brons), terugkeer.

Daar bestaan egter kommer oor die peil van hul vertonings, omdat hulle nog nie vanjaar die afstande van vorige seisoene kon haal nie.

Manyonga het vanjaar ’n beste poging van 8.37 m agter sy naam, teenoor 8.65 m in 2017. Samaai se beste vanjaar was 8.21 m, teenoor sy beste van 8.49 m, wat hy ook in 2017 behaal het.

Juan Miguel Echevarría van Kuba (8.65 m), Shoutarou Shiroyama van Japan (8.41 m) en Jeff Henderson van die VSA (8.38 m) het almal vanjaar al verder as Manyonga gespring.

Akani Simbine het met sy laaste deelname aan die Wêreldkampioenskappe met ’n vyfde plek huis toe gekom. Hy beklee ook tans dié plek op die wêreldranglys en kan moontlik een van Suid-Afrika se enigste ander aanspraakmakers op ’n medalje wees.

Hy het vanjaar al ’n tyd van 9.93 sekondes in die 100 m gehardloop.

Buiten die kwalifiserende vereistes van die IAAF, moet Suid-Afrikaners boonop aan die veel strenger standaarde van Atletiek Suid-Afrika (ASA) voldoen voordat hulle ’n plek op die vliegtuig na Doha kan kry.

Nog net 15 atlete kon ASA se sogenaamde “A-standaard” in 2019 oortref, hoewel ’n verdere 12 atlete reeds die IAAF se vereistes behaal het.

Nog net 15 atlete kon ASA se sogenaamde “A-standaard” in 2019 oortref, hoewel ’n verdere 12 atlete reeds die IAAF se vereistes behaal het.

Buiten Manyonga, Samaai en Simbine, het Clarence Munyai (200), Tshepo Tshite (800), Stephen Mokoka en Desmond Mokgobu (albei marathon), Antonio Alkana (110-hekkies), Zarck Visser (verspring), Khotso Mokoena (driesprong), Orazio Cremona (gewigstoot) en Wayne Snyman (20 km-stapwedloop) reeds vanjaar ASA se A-standaard onder die mans behaal.

Net Carina Horn, Tebogo Mamathu (albei 100 m) en die langasem Dominique Scott (5 000 m) het die vroue se A-standaard behaal.

Sou ASA besluit om almal saam te neem wat aan die IAAF se kwalifiserende vereistes vanjaar voldoen het, kan die name van Simon Magakwe, Thando Dlodlo (albei 100), Anaso Jobodwana (200 m), Derick Mokaleng, Thapelo Phora (albei 400 m), Rantso Mokopane (3 000-hindernis), Ruan de Vries (110-hekkies), Sokwakhana Zazini, Lindsay Hanekom (albei 400-hekkies) en Marc Mundell (50 km-stapwedloop) ook by die mans se spanlys gevoeg word. Scott (10 000), Nolene Conrad (marathon) en Zenéy van der Walt (400-hekkies) het onder die vroue ook die IAAF-standaarde oortref.

Die kans is egter goed dat ASA, soos in 2017, weer met ’n Gideonsbende gaan opruk en net dié beloon wat sy A-standaard behaal het.

* Die tydperk vir uitslae om in aanmerking te kom vir kwalifikasie-doeleindes, was van 7 September 2018 tot 6 September 2019.

* Atlete wat ASA se A-standaard in 2019 behaal het:

Mans:

100 m: Akani Simbine (9.93 sek);

200 m: Clarence Munyai (20.04), Akani Simbine (20.27);

800 m: Tshepo Tshite (1:44.69);

Marathon: Stephen Mokoka (2:07:58), Desmond Mokgobu (2:10:42);

110 m-hekkies: Antonio Alkana (13.30);

Verspring: Zarck Visser (8,41 m), Luvo Manyonga (8,37 m), Ruswahl Samaai (8,21 m);

Driesprong: Khotso Mokoena (16,81 m);

Gewigstoot: Orazio Cremona (21.51 m);

20 km-stapwedloop: Wayne Snyman (1:20:17);

Vroue:

100 m: Carina Horn (11.01), Tebogo Mamathu (11.04);

5000 m: Dominique Scott (14:59.08).

* Atlete wat die IAAF se kwalifiserende vereistes en ASA se B-standaard in 2019 behaal het:

Mans:

100 m: Simon Magakwe (10.05), Thando Dlodlo (10.08);

200 m: Anaso Jobodwana (20.38);

400 m: Derick Mokaleng (45.17), Thapelo Phora (45.19);

3000 m-hindernis: Rantso Mokopane (8:28.75)-

110 m-hekkies: Ruan de Vries (13.45);

400 m-hekkies: Sokwakhana Zazini (48.73), Lindsay Hanekom (48.81);

50 km-stapwedloop: Marc Mundell (3:58:32).

Vroue:

10 000 m: Dominique Scott (31:43.18);

Marathon: Nolene Conrad (2:36:21);

400 m-hekkies: Zenéy van der Walt (55.73).

Meer oor:  Atletiek  |  Doha  |  Iaaf  |  Asa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.