Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Nigerië se besluit knou Caster en kie.

Die nuus dat die Afrika-atletiekkampioenskappe vir eers van die baan is, is vir plaaslike atlete soos Caster Semenya ’n groot terugslag.

Caster Semenya se kanse om ’n plek in die SA span vir die Tokio-Spele te verwerf begin al hoe skraler word. Foto: Gallo Images

Slegs enkele dae nadat die stad Lagos in Nigerië tot die redding gekom het van die Konfederasie van Afrika-atletiek (CAA) en aangebied het om dié byeenkoms op kort kennisgewing aan te bied, het die Nigeriese owerhede ’n stokkie daarvoor gesteek.

Algerië het hom vroeër onttrek as gasheer van dié byeenkoms uit vrees vir die veiligheid van die atlete weens Covid-19-pandemie en dit blyk nou dat die Nigeriese gesondheidsowerhede ook om hierdie rede besluit het dat dit ook nie van 23 tot 27 Junie in Lagos aangebied kan word nie.

Dié nuus sal ’n bitter pil wees vir Semenya en ander omdat dit nog net 45 dae is voordat die Olimpiese Spele in Tokio begin en daar nog net 21 dae oor is voordat Wêreldatletiek se venster vir hoopvolles om te kwalifiseer sluit.

Die byeenkoms sou atlete soos Semenya ’n waardevolle kans gee om uiteindelik ’n plek in die Spele te behaal.

Dit beteken dat die byeenkoms sonder ’n gasheer is ’n rapsie meer as twee weke voordat die eerste skote moes geklap het.

Semenya wou haar beste tyd van 15:32.15 in die 5 000 m, wat sy einde verlede maand in Durban opgestel het, op die Afrika-kampioenskappe minstens tot die Spele-vereiste van 15:10.00 verbeter.

Sunette Viljoen, wat in 2016 op die Spele in Rio de Janeiro silwer verower het, sowel as Wayde van Niekerk, wat op dieselfde Spele goud gewen en ’n wêreldrekord in die 400 m opgestel het, is nog twee groot name wat tot dusver nie vanjaar daarin kon slaag om in hul voorkeurnommers vir die Tokio-Spele te kwalifiseer nie.

Van Niekerk se status as verdedigende kampioen is egter genoeg om hom by die deur in te kry.

Atletiek Suid-Afrika (ASA) sê in ’n omsendbrief aan sy lede dat die CAA hom Maandag van dié kansellasie ingelig het, maar dat alle hoop nie noodwendig verlore is nie.

“Ons is bewus daarvan dat die atlete die Afrika-kampioenskappe as ’n kwalifiseringsgeleentheid vir die Olimpiese Spele wou gebruik en, as ’n alternatief, moedig ons hulle aan om aan die oorblywende plaaslike byeenkomste deel te neem,” het Hezekiel Sepeng, bestuurder van ASA se hoëprestasiesentrum, gesê.

In hierdie stadium is daar nog enkele byeenkomste in Suid-Afrika wat moet plaasvind.

• Op 12 en 19 Junie sal Atletiek Gauteng-Noord ligabyeenkomste by die Universiteit van Pretoria aanbied.

• Op 12 Junie hou Westelike Provinsie Atletiek ’n byeenkoms vir middelafstande in die Groenpunt-stadion.

• Boland Atletiek hou op 12, 19 en 26 Junie byeenkomste vir veldatlete (paalspring, verspring en driesprong).

• ’n Ope byeenkoms sal op 26 Junie deur Atletiek Sentraal-Noordwes gehou word.

Atlete het tot 29 Junie om nog hul plek in die SA span vir die Spele te verseker, met net die marathons en 50 km-stapwedlope se kwalifiseringstydperk wat reeds op 31 Mei gesluit het.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.