Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Nike sê koebaai vir geskorste Luvo

Luvo Manyonga se wankelende atletiekloopbaan het ’n verdere terugslag beleef met die nuus dat Nike sy borgskapooreenkoms met dié voormalige verspring-wêreldkampioen beëindig het.

LONDON, ENGLAND - JULY 20: Luvo Manyonga of South
Luvo Manyonga is sy Nike-borgskap kwyt. Foto: Getty Images

Dít volg nadat Manyonga verlede week voorlopig deur atletiek se integriteitseenheid (AIU) geskors is nadat hy reëls met betrekking tot opkikkertoetse oortree het deur nie vir die toetsbeamptes in te lig oor waar hy homself bevind nie.

Manyonga het drie opkikkertoetse binne ’n tydperk van 12 maande misgeloop en is voorlopig geskors. Sy kanse om vanjaar aan die Olimpiese Spele in Tokio deel te neem is basies dus daarmee heen.

Dié skorsing dra normaalweg ’n maksimum tydperk van twee jaar, maar nadat Manyonga in 2012 ’n opkikkertoets gedop en vir 18 maande geskors is, kan sy skorsing so lank as vier jaar wees.

Ons gaan hom nie meer borg nie.
Nike-woordvoerder

Tensy hy uitstekende redes aan die AIU kan verskaf oor waarom hy nie vir die toetse beskikbaar was nie, sal sy atletiekloopbaan op die rotse wees.

Nike het in ’n verklaring aan die media gesê dat hy weens die voorlopige skorsing besluit het om nie sy kontrak met Manyonga te hernu nie.

“Die kontrak tussen Nike en die atleet (Manyonga) het aan die einde van 2020 verval. Ons gaan hom nie meer borg nie,” het Fareed Mohammed, die klereverskaffer se kommunikasiebestuurder, in ’n kort verklaring gesê.

Aleck Skhosana, president van Atletiek Suid-Afrika, het Maandag aan Netwerk24 gesê dat hy “bekommerd” is oor Manyonga en dat die nasionale liggaam hom nog nie kon opspoor nie.

Skhosana het ’n pleidooi aan Manyonga gerig om homself reg te ruk, sy dwelmgewoontes te laat vaar en weer te begin fokus op sy potensiaal as atleet.

Hy sê dat die AIU ook nog nie vir Manyonga in die hande kon kry nie.

“Ons kry afskrifte van al die briewe wat hulle aan hom probeer stuur, maar hulle het self nog nie sukses gehad nie,” het Skhosana by navraag gesê.

Manyonga en sy agent, Lee-Roy Newton, se paaie het aan die einde van 2020 geskei, en hy is glo terug na sy geboortedorp, die Paarl, nadat hy in Port Elizabeth woonagtig was.

Die Universiteit van Pretoria (Tuks) het ook in 2017 sy bande met die verspringer gesny.
Meer oor:  Luvo Manyonga  |  Nike
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.