Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
‘Níks sou my stuit’ – Goue Gerda

Sy is baie dankbaar en baie trots daarop om die nuwe Suid-Afrikaanse rekordhouer in die marathon vir vroue te wees.

Só het die 31-jarige Gerda Steyn, die goue vrou van Suid-Afrikaanse langafstand-atletiek, Sondag gesê nadat sy in Italië die oud-Springbok en Olimpiese atleet Colleen de Reuck se 25 jaar oue SA rekord in die marathon aan flarde gehardloop het.

Gerda Steyn en Irvette van Blerk ná hul blink vertonings Sondag in die Toskaanse marathon in Italië. Foto: Duncan Ross

Die Comrades-kampioen en boorling van Bothaville in die Vrystaat het die rekord van 2 uur 26 minute en 35 sekondes wat De Reuck – wat beide Suid-Afrika en die VSA op die Olimpiese Spele verteenwoordig het – in 1996 in die Berlyn-marathon in Duitsland opgestel het, Sondagoggend in die Toskaanse marathon in San Gimignano tot 2:25:28 verbeter.

Irvette van Zyl, vrou van die voormalige Olimpiese hekkiesatleet LJ van Zyl, het in dieselfde wedloop met ’n tyd van 2:28:41 seker gemaak van háár plek in die marathonspan na vanjaar se Olimpiese Spele in Tokio, Japan.

Dit was boonop die eerste keer wat twee Suid-Afrikaanse vroue in dieselfde wedloop deur die droomgrens van 2:30 gebreek het. Steyn het negende geëindig, met Van Zyl in die dertiende plek.

Steyn, wat ook die Twee Oseane-kampioen is, het uit Italië aan Netwerk 24 gesê sy het met verlede jaar se Londen-marathon ’n les geleer toe sy De Reuck se rekord met net 16 sekondes misgeloop het.

Gerda Steyn Sondagoggend in die Toskaanse marathon in Italië op pad om Colleen de Reuck se 25 jaar oue Suid-Afrikaanse rekord in die marathon te oortref. Foto: Duncan Ross

“Ek het ná daardie wedloop besluit as ek weer ’n kans kry, sal ek nie toelaat dat enigiets in my pad staan om die rekord te oortref nie. Ek het geweet ek moet vandag net my allerbeste gee.

“Ons het vandag nie goeie weer gehad nie, maar die les wat ek in Londen geleer het, was om vas te byt, al gaan dinge nie volgens plan nie,” sê Steyn, wat ’n graad in bourekenkunde aan die Universiteit van die Vrystaat verwerf het.

“Die weer was nie ideaal nie. Dit was veral aan die begin van die wedloop nogal reënerig en winderig, maar die toestande het verbeter na mate die resies gevorder het,” sê Steyn.

“Toe ek eers my ritme gekry het, het die weer my nie meer regtig gepla nie.”

Motreën het deurentyd geval, ’n deel van die roete was ongelyk en op ander plekke was dit baie glad.

“Ek kon behoorlik voel hoe die ondersteuning van die huis af my en Irvette vandag gedra het,” sê Steyn.

Toe ek eers my ritme gekry het, het die weer my nie meer regtig gepla nie.

Van Zyl, ’n broerskind van Frances van Blerk, die Comrades-vrouekampioen van 1992, het gesê sy is baie dankbaar en verlig ná ’n paar moeilike jare weens beserings.

“Dit was ’n lang en ’n baie rowwe pad tot hier,” het sy ’n paar minute ná die wedloop gesê en toe begin huil.

“Ek is ook baie bly vir Gerda (Steyn). Ek is so dankbaar . . . ek is so bly,” het sy tussen die trane deur gesê.

Behalwe die stryd teen beserings moes Van Zyl tot op die nippertjie swoeg om ’n visum te kry om Italië toe te kon reis.

“Ek en Irvette verlaat Italië met goeie herinneringe,” sê Steyn, wat meestal in Frankryk woon en oefen.

Beide atlete neem vir die Nedbank-klub deel.

Meer oor:  Irvette Van Zyl  |  Gerda Steyn  |  Atletiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.