Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Niks vreemd om opkikkertoetse te mis, sê Naser

Salwa Eid Naser, die 400 m-wêreldkampioen, het die atletiekwêreld laat kopkrap toe sy Saterdag gesê het dit is normaal om drie opkikkertoetse binne 12 maande mis te loop.

Die Bahreinse atleet, wat Vrydag voorlopig geskors is deur Atletiek se Integriteitseenheid (AIU), het haar tot Instagram gewend om haar teleurstelling uit te druk oor dié besluit.

Salwa Eid NaserFoto: Getty Images

“Ek was nog nooit ’n verneuker nie. Ek sal ook nooit wees nie,” het die 22-jarige in ’n regstreekse video op Instagram gesê.

“Ek het net drie opkikkertoetse gemis, wat normaal is. Dit gebeur. Dit kan met enigiemand gebeur. Ek wil nie hê mense moet deurmekaar wees hieroor nie, want ek sal nooit verneuk nie.”

Naser, wat nou vir twee jaar geskors kan word, sê die toetse wat sy gemis het, was almal voordat sy die goue medalje verlede jaar in Doha verower het in 48.14 sekondes.

Dié tyd was op twee na die vinnigste in die geskiedenis deur enige vrou in die 400 en die beste sedert 1985.

“Ek is nog nie vanjaar getoets nie,” het sy gesê.

“Ons praat van die vorige seisoen voor die wêreldkampioenskap.”

Ek het net drie opkikkertoetse gemis, wat normaal is. Dit gebeur.
Salwa Eid Naser

Sy sê dat sy hoop die kwessie sal vinnig opgelos word.

“Hopelik gebeur dit gou, want ek hou nie baie van dié beeld nie, maar dit het gebeur. Dit gaan oukei wees. Dit is baie moeilik om dié blapsie op my naam te hê,” het sy gesê.

“Ek glo in talent, en ek weet ek het talent.”

Kort voor verlede jaar se Wêreldkampioenskap het die Amerikaner Christian Coleman homself in dieselfde posisie bevind met klagtes teen hom dat hy toetse vir die gebruik van verbode middels misgeloop het.

Dit is egter weens ’n tegniese punt laat vaar toe die Wêreldagentskap teen die gebruik van verbode middels (Wada) die Amerikaanse agentskap teen die gebruik van verbode middels (Usada) aanbeveel het om Coleman nie te verhoed om deel te neem nie.

Wada vereis van atlete om buite kompetisies hulself vir een uur ’n dag vir opkikkertoetse beskikbaar te stel. Dit beteken hulle moet toetsbeamptes deurgaans in kennis stel van waar hulle hulle bevind.

Sou hulle dit nie doen nie, word dit as ’n oortreding beskou.

Volgens Wada het Coleman sy eerste oortreding (hy het toetsbeamptes nie in kennis gestel waar hy hom bevind

nie) op 6 Junie 2018 begaan en sy derde en laaste een op 26 April 2019.

Dus drie binne ’n jaar, wat strafbaar was.

Coleman het die skorsing vrygespring aangesien Wada se reël oor dié soort oortreding sê wanneer dit die eerste keer gebeur, moet die datum terugskuif na die eerste dag van die betrokke kwartaal.

Dít het beteken Coleman se oortreding het volgens die tegniese vertolking van die reël inderwaarheid op 1 April 2018 plaasgevind en gevolglik was die derde en laaste oortreding meer as ’n jaar later.

Hy is toe as die 100 m-wêreldkampioen gekroon in Doha. – Sportredaksie

Meer oor:  Christian Coleman  |  Wada  |  Wêreldatletiek  |  Opkikkers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.