Die organiseerders van die Diamantliga-atletiekreeks het Vrydag nog twee byeenkomste geskrap, terwyl ’n derde een uitgestel is.
Die Diamantliga-byeenkoms in Parys, Frankryk, wat vir 6 September geskeduleer was, en die Prefontaine Classic-byeenkoms in Eugene, Oregon, sal eers weer in 2021 gehou word.

Die VSA se 200 m-wêreldkampioen, Noah Lyles, in 2019 in aksie in die Diamantliga-byeenkoms in Parys. Dié byeenkoms sal nie vanjaar aangebied word nie. Foto: Getty Images
Die Müller Grand Prix-byeenkoms in Gateshead, Engeland, sal wel later vanjaar plaasvind.
Die byeenkoms in Parys is in die wiele gery nadat die Franse regering aangekondig het dat geen massasaamtrekke mag plaasvind nie. Die organiseerders het besluit het om nie die byeenkoms sonder toeskouers aan te bied nie.
Wêreldatletiek sê dat dié byeenkoms weer in Augustus 2021 gehou sal word wanneer vrywilligers gebruik kan word en ster-atlete weer kan deelneem.
Die Prefontaine Classic, wat vir 4 Oktober geskeduleer was, moes ook gekanselleer word, omdat Oregon self nog ’n verbod op groot saamtrekke het.
Die byeenkoms sal volgende jaar weer gehou word en aan die Universiteit van Oregon die geleentheid bied om sy nuwe Hayward-atletiekbaan bekend te stel.
Wêreldatletiek sê hy krap steeds kop oor ’n datum vir die Müller Grand Prix, maar die plan is dat dit steeds vanjaar plaasvind.
“Ons het 12 September geïdentifiseer as ’n moontlike alternatiewe datum,” sê organiseerders in ’n verklaring.
“Dit kan nog nie finaal bevestig word nie weens die Britse regering se riglyne en maatreëls.”
Die Covid-19-pandemie en die wêreldwye gesondheidskrisis kan egter beteken dat nog veranderinge kan plaasvind.
Die reeks se formaat is reeds vir vanjaar aangepas met korter byeenkomste. Daar sal ook nie ’n eindronde in Zürich gehou word nie.
Atlete verdien ook nie vanjaar ranglyspunte nie, maar kry met dié byeenkomste wel ’n kans om weer geld te verdien.