Conseslus Kipruto, Kenia se Olimpiese en wêreldkampioen in die 3 000 m-hindernis, is die jongste groot naam in atletiek, wat positief vir die koronavirus getoets is.

Conseslus Kipruto, Kenia se Olimpiese- en wêreldkampioen in die 3 000 m-hindernis, is positief vir die koronavirus getoets. Foto: Getty Images
Die 25-jarige Kipruto het dié nuus bevestig en moes hom aan Vrydag se Diamantliga-byeenkoms in Monaco onttrek.
Vir Kipruto is dié nuus ’n groot terugslag.
Die Keniaan, wat ook in 2018 as die Statebond se kampioen gekroon is, sê hy handhaaf ’n uitstekende peil en het sy visier op die wêreldrekord gehad.
Dié rekord staan agter die naam van Saif Saaeed Shaheen wat in Kenia gebore is voordat hy later vir Katar verteenwoordig het.
Shaheen het in 2004 die 3 000-hindernis in 7:53.63 in Brussel gewen, maar Kipruto, wat met ’n persoonlike beste van 8:00.12 spog, glo nou is die tyd om na ’n hoër rat oor te skakel.
“Ons wêreld gaan deur ’n moeilike en uitdagende tydperk en ons almal het ons verantwoordelikhede,” sê hy op Instagram.
“Ongelukkig is my toets vir die koronavirus positief en daarom sal ek nie op 14 Augustus deel van die Diamantliga-byeenkoms in Monaco wees nie.”
Nes Wayde van Niekerk van Suid-Afrika sê Kipruto dat hy ook nog geen simptome van die siekte ervaar het nie, ten spyte daarvan dat hy positief getoets is.
“Die rekord hoort weer agter ’n Keniaan se naam.
“As ’n wêreld- en Olimpiese kampioen voel ek ook sterk daaroor dat dit iets is wat ek moet teiken.”
Van Niekerk is twee weke gelede, op die vooraand van sy terugkeer op internasionale vlak, ook positief vir die koronavirus getoets. Die volgende dag is sy tweede toets negatief gewees.
Hy kon egter as ’n voorsorgmaatreël nie aan die 100 of 400 in Trieste, Italië, deelneem nie.