Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Nóg ’n opkikker-skok: Horn dop toets
Carina Horn is in die sop nadat sy positief getoets het vir die gebruik van verbode middels. Foto: Getty Images

Suid-Afrika se atletiekspan is ’n groot terugslag toegedien voor die Wêreldkampioenskappe in Doha met die nuus dat een van die land se voorste atlete positief getoets het vir die gebruik van verbode middels.

Die Internasionale Vereniging vir Atletiekfederasies (IAAF) se Atletiek-integriteitseenheid (AIU) het op sy webblad bekend gemaak dat Carina Horn, wat die nasionale rekord in die 100 m hou en ook een van die land se voorste vroueatlete is, positief getoets het vir die gebruik van twee verbode middels.

Sy is voorlopig geskors en sal nie volgende week saam met die Suid-Afrikaanse atletiekspan na Katar vertrek vir die Wêreldbyeenkoms nie.

Horn het glo Ibutamoren en LGD-4033 in haar gestel gehad.

Ibutamoren, of MK-677, is ’n groeihormoon, terwyl LGD-4033 een van die middels is waarvoor die Springbok-vleuel Aphiwe Dyantyi ook onlangs positief getoets het.

Dyantyi is vir drie verbode middels positief getoets, maar gaan appelleer teen dié bevinding.

LGD-4033 word as ’n middel teen spierverslapping weens ouderdom gebruik.

Atletiek Suid-Afrika (ASA) wou vir eers geen kommentaar lewer nie, hoewel ’n betroubare bron met goeie kennis van die saak aan Netwerk24 gesê het dat Horn kans tot Vrydag gegee is om op die beskuldiging teen haar te reageer. Sy beweer glo die verbode middels het betrekking met haar asma-medikasie.

“Dit is ietwat onverstaanbaar dat haar naam reeds bekend gemaak is nog voor sy kans gehad het om ’n verduideliking te stuur vir hoekom sy moontlik van dié middels in haar gestel kon hê,” het die bron gesê.

Horn beklee tans die 11de plek op die IAAF se wêreldranglys, met ’n vinnigste tyd van 11.01 sekondes in 2019.

Sy het verlede jaar onder die voorste 10 vroue ter wêreld getel in die 100 m nadat sy die Suid-Afrikaanse rekord verbeter het tot 10.98.

Dít het gevolg nadat sy by die Suid-Afrikaanse nasionale byeenkoms by Tuks se L.C. de Villiers-stadion in 2018 – met ’n tyd van 11.03 – die ou rekord van 11.06, wat sy en Evette de Klerk gesamentlik gehou het, haar eie gemaak het.

Horn is een van net drie vroue wat ASA se sogenaamde A-standaard gehaal het vir die Wêreldkampioenskappe.

Haar skorsing beteken dat Tebogo Mamathu nou al een sal wees wat die SA vaandel in die vroue se 100 sal dra.

Net Dominique Scott (5 000) het ook die A-standaard oortref om haar plek op die vliegtuig te verseker.

Meer oor:  Atletiek  |  Verbode Middels  |  Iaaf  |  Carina Horn  |  Opkikkers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.