Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Atletiekbaas sê TV-dekking van kritieke belang

Toe die aankondiging Saterdag gemaak is dat James Moloi Atletiek Suid-Afrika (ASA) se nuwe president is, was Aleck Skhosana, sy voorganger, nêrens te sien nie.

Skhosana, wat sedert 2014 aan die stuur was, het kort ná die aanwysing van Shireen Noble as die nuwe visepresident reeds spore gemaak en ofskoon die amptelike verskoning was dat hy laat vir ’n vlug was, was die tydsberekening hiervan hopeloos te toevallig.

James Moloi, Atletiek Suid-Afrika se nuwe president. Foto: Gallo Images

Skhosana is met 39 stemme teenoor 27 verslaan.

Sy onwilligheid om met planne vorendag te kom vir die hervatting van die atletiekseisoen in 2020 – nadat die nasionale staat van inperking weens die Covid-19-pandemie verslap is, het hom eindelik ingehaal.

Nou is die onus op sy opvolger om die belangstelling in die sport weer onder potensiële borge aan te wakker en om boonop ondersteuning te werf vir die deelnemers in ’n sport wat ’n geruime tyd al tweede viool speel wanneer dit by televisiedekking kom.

“Ek was self ’n atleet. Ek ken die pyn van atlete en afrigters,” sê Moloi.

“Ek gaan na die provinsies luister. ’n Goeie leier luister. Die provinsies is daar om leiding aan my te gee. As ek iets benodig of probleme ervaar, moet hulle my rigting gee.”

My hart was seer toe ek sien dat drie provinsies weens finansiële beperkinge nie die nasionale kampioenskap kon bywoon nie.

Moloi is ’n groot voorstander daarvan dat uitsaaikontrakte beklink moet word en het dit selfs as die hoofdoelwit in sy termyn as president uitgewys.

“Ons wil al ons wedlope op televisie hê. Ons wil regstreekse dekking hê, want as ons dit nie doen nie, gaan ons nie borge kry nie en mors ons net ons tyd,” sê hy.

“Dink nou net Akani Simbine hardloop vandag, maar jy hoor eers môre wat sy tyd was. Dit kan nie so werk nie. Daarom is dit my eerste prioriteit.”

Moloi glo die deeglike kommunikasie tussen provinsies en ook raadslede is van kardinale belang sou hulle die sport wil bevorder.

Aleck Skhosana is die afgelope naweek as president van Atletiek Suid-Afrika uitgestem. Foto: Gallo Images

“As daar onderliggende probleme is, moet ons onderling praat en sien hoe ons mekaar kan help,” sê hy.

“Ek gaan ’n punt daarvan maak om na die verskillende provinsies te reis en te sien waar ek kan ingryp, want sommige van die provinsies trek swaar wat hul kantoor en so meer betref. Ons sal met munisipaliteite praat en maniere vind om te help.”

Hy het die afwesigheid van drie provinsiale spanne by die nasionale byeenkoms ook as teleurstellend bestempel.

Griekwaland-Wes, Suidwestelike Distrikte en Grens was nie verlede maand in Pretoria in aksie nie.

“My hart was seer toe ek sien dat drie provinsies weens finansiële beperkinge nie die nasionale kampioenskap kon bywoon nie. Dit is nie goed nie. Ek sal finansiële hulp probeer kry sodat ons vir die nasionale kompetisies kan betaal wat alles van landloop, padwedlope tot baan- en velditems insluit sodat dit nie weer gebeur nie,” sê Moloi.

“Ek wil nie weer sien dat provinsies nie spanne kan stuur nie. Al die provinsies moet teenwoordig wees.”

Moloi sê verder dat daar op die knoppie van voormalige uitblinkers in die sport gedruk moet word om hul ervaring te deel en toekomstige atlete en afrigters touwys te maak.

“Ons kort die vergete legendes van Suid-Afrikaanse atletiek. Ons moet hulle kry om betrokke te raak in die hoedanigheid van byvoorbeeld spanbestuurders en hulle na skole neem om jonges te motiveer,” sê hy.

“Ander sporte doen dit, maar om die een of ander rede vergeet ons in atletiek dadelik van jou sodra jy uitgetree het en dit is nie goed nie.”

Meer oor:  Atletiek  |  Asa  |  James Moloi  |  Atletiek Suid-Afrika
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.