Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Nuwe dokkie oor Oscar gou op die kassie
Beter dae: Oscar Pistorius vier sy wegholoorwinning in die 400 m (T44) by die Paralimpiese Spele in Londen in 2012. Foto: Getty Images

Kykers sal ná die gewilde dokumentêre reeks Chasing The Sun, wat oor die Springbokke se suksesvolle veldtog in Japan handel, hulself kan staal vir ’n meer dramatiese reeks: dié slag oor Oscar Pistorius.

The Life and Trials of Oscar Pistorius, ’n dokumentêre reeks van vier episodes, sal van 19 November af uitgesaai word.

Só het ESPN aangekondig met dié reeks se regisseur, Daniel Gordon (Hillsborough, George Best: All By Himself), wat met ’n Bafta-prys spog.

The Life and Trials of Oscar Pistorius is die nuutste in die Peabody- en Emmy-bekroonde reeks 30 for 30 en is boonop vervaardig deur John Battsek, wat in 1999 (One Day in September) en in 2012 (Searching for Sugarman) met goue Oscar-beeldjies weggestap het vir dié dokumentêre rolprente.

The Life and Trials of Oscar Pistorius vertel die storie van die Suid-Afrikaanse lemnaeler en nasionale held, wat duisende geïnspireer het met sy toewyding en doelgerigtheid, voordat hy die middelpunt van ’n moordondersoek geword het.

Die sirkus wat hom ná die tragiese dood van Reeva Steenkamp afgespeel het, het net só ’n groot storie geword as die tydperk waarin hy tot glorie geklim het.

Die sirkus wat hom ná die tragiese dood van Reeva Steenkamp afgespeel het, het net só ’n groot storie geword as die tydperk waarin hy tot glorie geklim het.

The Life and Trials of Oscar Pistorius is die hoogtepunt van ’n ongelooflike jaar van werk vir ESPN Films,” het Evert van der Veer, adjunkpresident van Media Networks, luidens ’n verklaring gesê.

Met verskeie onderhoude wat gevoer is met rolspelers naby aan die saak, sal die reeks die storie vertel van hoe Pistorius se lewe ’n U-draai geneem het nadat hy vir Steenkamp in die vroeë oggendure van 14 Februarie 2013 geskiet het in sy huis in Pretoria.

Pistorius het volgehou dat die gebeure ’n tragiese ongeluk was, maar sy bevraagbare getuienis het twyfel in sy onskuld laat ontstaan.

Die reeks sal onder meer terugflitse wys na die begin van Pistorius se lewe waar hy as ’n jong seun albei sy onderontwikkelde bene laat amputeer het, tot waar hy byna oornag ’n bekende naam geword het tydens die Paralimpiese Spele in 2004 in Athene.

Die media omsingel Oscar Pistorius buite die hooggeregshof in Pretoria nadat hy daarvan aangekla is dat hy vir Reeva Steenkamp doodgeskiet het. Foto: Getty Images

Die “Blade Runner”, soos hy toe gedoop is, het in 2012 tot sy buiging by die Olimpiese Spele gemaak nadat hy vir jare met beamptes koppe oor sy deelname gestamp het.

Minder as ’n jaar later is hy van die moord op sy vriendin aangekla.

“Die storie van Oscar Pistorius is merkwaardig in sy kompleksiteit,” het Gordon gesê.

“Dit is inspirerend en terselfdertyd hartverskeurend, en dit gee vir ’n mens insig oor ’n verskeidenheid probleme, van geslagsgeweld tot die regte van gestremdes, rasse-ongelykhede en media-dolheid.

“My hoop is dat die reeks vir kykers addisionele konteks en lae in ’n storie gee wat hulle dink hulle reeds ken,” het Gordon bygevoeg.

Op die kassie:

The Life and Trials of Oscar Pistorius se skedule op ESPN (218 op DSTV):

Deel 1: 19 November (20:00), heruitsending op 22 November.

Deel 2: 26 November (20:00), heruitsending op 29 November.

Deel 3: 3 Desember (20:00), heruitsending op 6 Desember.

Deel 4: 10 Desember (20:00), heruitsending op 13 Desember.

Die reeks sal ook op DSTV Catch Up en die ESPN Player-app beskikbaar wees.

 
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.