Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Nuwe kinkel in Luvo Manyonga-sage

Die onsekerheid oor Luvo Manyonga se doen en late is steeds ’n groot bron van kommer vir Atletiek Suid-Afrika (ASA).

Aleck Skhosana, president van ASA, sê dat hy – byna drie weke nadat die Olimpiese silwermedaljewenner en voormalige wêreldkampioen in die verspring geskors is – steeds nie suksesvol was in sy pogings om persoonlike kontak met Manyonga te maak nie.

Luvo Manyonga op ’n Diamantliga-byeenkoms in Londen. Foto: Getty Images

Die 30-jarige Manyonga, wat ook in 2018 as die Statebondkampioen in Australië se Goudkus gekroon is, is voorlopig deur atletiek se integriteitseenheid (AIU), ’n onafhanklike liggaam wat deur Wêreldatletiek gestig is, geskors nadat hy drie opkikkertoetse binne 12 maande misgeloop het.

Sedert sy skorsing aangekondig is, probeer ASA desperaat om hom in die hande te kry, maar met min sukses.

Skhosana sê egter dat ’n brief dié week by ASA se kantore opgedaag het waarin ’n persoon, wie se naam hy nie bekend wou maak nie, beweer dat hy as Manyonga se nuwe skakelbeampte gaan optree.

“Ek het ’n brief gesien wat iemand Maandag aan ASA se kantore gestuur het. Die persoon sê dat hy nou namens Luvo optree en praat,” het Skhosana Woensdag by navraag gesê.

“Ons wag om te kyk hoe dit gaan verloop.”

Hy sê dat hulle intussen ook ’n amptelike kennisgewing van Wêreldatletiek ontvang, wat bevestig dat Manyonga voorlopig geskors is.

“Wêreldatletiek het bevestig dat hy wel tans geskors is hangende sy verhoor, waarvan die datum en besonderhede nog bekend gemaak moet word.”

In hierdie stadium lyk dit of Manyonga se droom van Olimpiese goud nie later vanjaar in Tokio verwesenlik sal kan word nie.

Skhosana sê ’n skrywe wat hulle aan Manyonga gestuur het, is beantwoord deur iemand wat nie aan ASA bekend is nie.

“Ons het weer versoek dat Manyonga persoonlik met ons in verbinding tree, soos wat hy in die verlede gedoen het.

“Ons kan nie net ’n brief van ’n vreemde persoon ontvang wat opdrag gee dat alle kommunikasie nou deur dié persoon moet gaan as ons nie eens weet of die persoon ís wie hy of sy sê hulle is nie.”

Skhosana sê Manyonga het ASA in die verlede self gekontak en inligting gegee oor wie sy afrigter is, waar hy homself bevind en hoe hy bereik kan word.

“Hy het nou glo vir ons inligting gegee deur hierdie nuwe kontakpersoon, maar dit moet eers bevestig word.

“ASA ken nie dié persoon nie en voorheen sou Luvo ons kontak en sê: ‘Aleck, wanneer jy my van nou af bel, sal dié of daardie persoon antwoord,’ en dan weet ons die inligting is eg.”

Hy sê hulle wil dringend met die verspringer oor sy skorsing gesels en hom die kans gee om sy kant van die saak te stel.

• ASA het op 18 Januarie gesê dat alle atletiek-aktiwiteite weens die stygende infeksiesyfers in die land vir twee weke opgeskort word.

Skhosana sê dié opskorting sal minstens nog tot 7 Februarie duur.

ASA sal dan sy besluit oor of atletiekbyeenkomste weer hervat kan word, bekend maak.

“In die stadium lyk dit of die nuwe infeksies aan die daal is, so ons is optimisties dat atletiek weer sal kan voortgaan,” het hy bygevoeg.

Meer oor:  Atletiek  |  Luvo Manyonga  |  Asa  |  Aleck Skhosana  |  Skorsing  |  Atletiek Suid-Afrika
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.