Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Maatreëls gaan opkikkerskelms vasvat

Russiese atlete en afrigters wat vir spanne oorweeg wil word, sal net in aanmerking kom mits hulle ’n positiewe geskiedenis het wat opkikkers betref.

Só het die Russiese Atletiekfederasie (Rusaf) gesê met die aankondiging van streng nuwe regulasies wat hy gaan instel in ’n poging om sy reputasie as dwelmskelm iets van die verlede te maak.

Die Russiese nuusagentskap TASS berig dat Rusaf dié stappe gedoen het nadat sy lidmaatskap by Wêreldatletiek in 2018 opgeskort is.

Yevgeny Yurchenko, president van die Russiese Atletiekfederasie, het streng nuwe maatreëls ingestel waaraan atlete en afrigters moet voldoen. Foto: Getty Images

Onder die nuwe kriteria sal geen atleet vir ’n span oorweeg word nie as hy ná 18 November 2015 uitgevang is vir die gebruik van opkikkers.

Indien ’n vermoede bestaan dat ’n atleet die reëls rakende die gebruik van verbode middels dalk oortree het, mag dié atleet ook nie oorweeg word nie, terwyl ’n ondersoek hangende is.

Geen atleet mag by ’n afrigter oefen wat ná 18 November 2015 skuldig bevind is daaraan dat hy of sy betrokke was by verbode middels nie.

Atlete wat deur Wêreldatletiek, die Russiese agentskap teen die gebruik van verbode middels (Rusada) of atletiek se integriteitseenheid (AIU) van enige oortredings beskuldig is, sal ook nie oorweeg word nie.

Volgens ’n verklaring deur Rusaf sal die kriteria van toepassing wees op alle streekspanne se federasies en alle werknemers wat deur die nasionale liggaam aangestel word.

Afrigters het dit selfs nóg moeiliker.

Enige afrigter of mediese spesialiste wat tussen 2010 en Oktober 2019 skuldig bevind is daaraan dat hulle reëls betreffende opkikkers oortree het, mag by geen Russiese span betrokke wees nie.

Net diegene met geldige afrigtingslisensies sal toegelaat word om ’n nasionale span te brei.

Volgens Yevgeny Yurchenko, president van Rusaf, is dié kriteria een van die vereistes wat deur Wêreldatletiek gestel is en glo hy die Russe het dit nodig om sy sport weer skoon te kry.

Yurchenko het in Februarie dié pos ingeneem met die Rusland se departement van sport wat in Maart Rusaf se akkreditasie weer geldig verklaar het.

Rusaf is enkele dae later deur Wêreldatletiek met $10 miljoen beboet vir sy oortreding van atletiek se opkikkerreëls.

Rusaf is in 2015 geskors ná ’n groot opkikker-skandaal by 2014 se Winterspele in Sotsji.

Dié skorsing is sedertdien al 13 keer verleng met Rusland wat verbied is om aan die Wêreldkampioenskap in 2015, 2017 en 2019, sowel as die Olimpiese Spele in 2016 deel te neem.

Atlete sou ook nie onder die Russiese vlag aan 2020 se Spele in Tokio mag deelgeneem het nie. Slegs diegene wat ’n skoon rekord het, sou as neutrale atlete hul slag kon wys.

Die uitstel van die Spele tot 2021 en die nuwe kriteria deur Rusaf kan dalk aan Wêreldatletiek tyd gee om te herbesin oor dié skorsing. – Sportredaksie

Meer oor:  Atletiek  |  Verbode Middels  |  Opkikkers  |  Rusada
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.