Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Olimpiese kampioen geskors

Brianna Rollins-McNeal, Olimpiese kampioen in die 100 m-hekkies, is voorlopig geskors nadat sy reëls oor opkikkers oortree het.

Brianna Rollins-McNeal verlaat die baan nadat sy gediskwalifiseer is in die eerste ronde van 2019 se 100 m-hekkies in die Wêreldkampioenskappe in Doha. Foto: Getty Images

Atletiek se integriteitseenheid (AIU) het dié aankondiging op hul webtuiste gemaak. Dit volg kort op die hakke van die skorsing van Luvo Manyonga, Suid-Afrika se voormalige wêreldkampioen in die verspring en Olimpiese silwermedaljewenner.

Rollins-McNeal (29), wat ’n goue medalje gewen het in die Olimpiese Spele in Rio de Janeiro en ook in 2013 in Moskou as wêreldkampioen gekroon is, is aangekla dat sy “met die toetsproses vir opkikkergebruik gepeuter” het.

Die AIU het egter nie verder uitgewei oor wat presies hiermee bedoel word nie.

Rollins-McNeal was in 2016 deel van geskiedenis toe sy die 100 m-hekkies by die Spele gewen het.

Haar landgenote Nia Ali en Kristi Castlin was onderskeidelik tweede en derde, met Amerika wat die eerste land geword het om al drie podiumplekke op te raap in dié item.

Sy is egter aan die einde van daardie jaar vir 12 maande geskors deur die Amerikaanse agentskap teen die gebruik van verbode middels (Usada) nadat sy drie opkikkertoetse in 2016 misgeloop het.

Twee hiervan was nadat sy versuim het om haar inligting op te dateer oor waar sy haarself sou bevind toe sy haar geboortedorp besoek het en daarna na die Withuis is om die president te ontmoet.

Dié skorsing het beteken dat sy in 2017 nie aan die Wêreldkampioenskappe in Londen kon deelneem nie.

Sy sou eindelik in 2019 weer kwalifiseer om in Doha in die blokke te sak, maar is in die eerste ronde gediskwalifiseer ná ’n foutiewe wegspring.

Ali is as die eindelike kampioen gekroon.

Vir atletiek begin sake al hoe meer beroerd lyk, met van die sport se voorste atlete wat skorsings opgelê is.

Die 100 m-wêreldkampioen, Christian Coleman, sowel as die 400 m-wêreldkampioen, Salwa Eid Naser, is ook voorlopig geskors nadat hulle ook drie opkikkertoetse binne ’n tydperk van 12 maande misgeloop het.

Coleman en Naser het reeds geappelleer teen dié skorsings.

Carina Horn, Suid-Afrika se nasionale rekordhouer in die 100, dien ook ’n voorlopige skorsing uit nadat sy positief getoets is vir die verbode middels Ibutamoren en LGD-4033.

Horn se verhoor het op 13 November plaasgevind, maar die AIU het nog nie ’n uitspraak gelewer nie.

Tebogo Mamathu, nóg ’n plaaslike naelloper, is in 2020 vir vier jaar deur die Suid-Afrikaanse Instituut vir Dwelmvrye Sport (Saids) geskors.

Die verbode middels oksandroloon-metaboliete Ox M1 en Ox M2, middels wat spiergrootte en krag bevorder, is in haar gestel gevind.

Sy was Suid-Afrika se naasbeste atleet in die 100 m.

Minstens 50 atlete van Kenia dien skorsings uit nadat hulle reëls oor opkikkers oortree het.

Dit sluit in Wilson Kipsang, die voormalige marathon-wêreldrekordhouer, Daniel Wanjiru, wat in 2017 die wenner in die Londen-marathon was, en Asbel Kiprop, ’n voormalige Olimpiese kampioen en driemalige wêreldkampioen in die 1 500.

Meer oor:  Olimpiese Spele  |  Atletiek  |  Verbode Middels  |  Opkikkers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.