Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Olimpiese kampioen weer lank op kantlyn

Die tweemalige Olimpiese kampioen in die 800 m David Rudisha was Donderdag onder die mes nadat hy ’n enkelbreuk opgedoen het verlede week.

So berig Wêreldatletiek met Rudisha wat in Eldoret, Kenia, geopereer is en na verwagting vir tussen 12 en 16 weke op die kantlyn gaan wees.

Die Keniaan David Rudisha op pad na sy tweede goue medalje in die 800 m op die Olimpiese Spele in 2016.Foto: Getty Images

Hy is reeds geruime tyd op die kantlyn nadat hy ’n spier getrek het tydens die Wêreldkampioenskap in 2017 in Londen.

Hy was sedertdien nog nie weer in aksie nie en sal die nuutste besering as ’n groot terugslag beskou.

Luidens die Keniaan se woordvoerder het hy die besering by sy huis in Kilgoris in die Narok-streek opgedoen toe die 31-jarige op ongelyke grond getrap het.

Hy het glo aanvanklik vermoed dat hy net skeef getrap het en sy enkel geswik het.

Rudisha het toe aangehou oefen op wyses wat nie sy voet verder sou beseer nie, maar toe dit ná die naweek geen tekens van herstel getoon het nie, is hy na die St. Luke-hospitaal in Eldoret waar hy geskandeer is en die fraktuur gediagnoseer is.

Dr. Victor Bargoria, wat die operasie behartig het, sê hulle moes vir Rudisha ’n buisvormige plaat en 3,5 mm-skroewe insit.

Die Keniaan teiken sy derde verskyning op die Olimpiese Spele in 2021 wanneer dit in Tokio plaasvind. – Sportredaksie

Meer oor:  David Rudisha  |  Olimpiese Spele
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.