Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
‘Driekuns belangriker as rekord’
Morris Gachaga van Kenia salueer die toeskouers op pad na sy derde oorwinning agtereenvolgens in Sondagoggend se OneRun-wedloop oor 12 km. Foto: David Tarpey

Nog voor die Moederstad se inwoners behoorlik wakker geword het, het twee puik padwedlope hulle Sondagoggend in Kaapstad afgespeel.

Die Keniaan Morris Gachaga het sy wedloop takties uitstekend benader om sy derde agtereenvolgende oorwinning in die OneRun-wedloop oor 12 km te behaal.

Sy wentyd van 33 minute en 38 sekondes het hom R30 000 in die sak gebring.

Sowat 14 300 deelnemers het in ideale, koel weer van Woodbridge-eiland in Milnerton na die middestad gehardloop.

Met ’n sterk groep elite-atlete, is daar gehoop Gachaga se wêreldbeste tyd van 33:27 sou verbeter kon word, maar op die ou end was dit ’n taktiese wedloop, met die een groep ná die ander wat die voorpunt gedek het.

Maar oor die laaste 5 km het Abdallah Mande van Uganda die krane oopgedraai en dit was net Gachaga wat by hom kon bly.

Dié twee het die laaste paar kilometer in die middestad sy aan sy gehardloop, maar niks of niemand kon Gachaga keer om sy driekuns te behaal nie.

Hy was so vol selfvertroue, dat hy aan die bopunt van Breëstraat, met 300 m na die eindstreep, sy vuis in die lug geswaai het en ’n mens het amper gedink hy het te vroeg begin feesvier.

Hy het die eindstreep oorgesteek, net 11 sekondes buite sy eie roeterekord en wêreldbeste tyd van 33:27.

Mande het tweede klaaargemaak in 33:39, met Stephen Mokoka derde in 33:50.

Gachaga sê hy wou bitter graag sy derde titel wen. “Die rekord was nie belangrik nie. Die oorwinning eerste, dan die rekord,” sê Gachaga.

“Toe Abdallah (Mande) die voortou neem, het ek geweet dít was sy aanslag en ek moes by hom bly.

“Ek was bekommerd oor my bene ná die Parys-marathon in April, maar ek kon byhou. Dit het my deurgedra.”

Die Suid-Afrikaner Elroy Gelant was sewende in 34:14.

Brillian Kipkoech op pad na haar oorwinning en roeterekord in haar debuut in die OneRun-wedloop. Foto: David Tarpey

Ook die Keniaan Brillian Kipkoech het takties gehardloop om die aanslag van die Ugandees Stella Chesang, die Statebondkampioen oor die 10 000 m, in die vroue se afdeling af te weer.

Chesang het van die wegspring die voortou geneem en Kipkoech het eers in die laaste 3 km haar voet op die versneller begin sit. Sy het haar laaste aanval in die 500 m geloods en kon daarin slaag om Vivian Cheruiyot se vyf jaar oue roeterekord van 38:22 na 38:05 te verbeter.

Chesang het tweede geëindig in 38:09 en Sofiya Chege derde in 38:10. Irvette van Zyl was die eerste Suid-Afrikaner in 39:22 in die sesde plek.

Van Zyl het haar persoonlike beste tyd van 39:40 van 2016 verbeter.

Meer oor:  Atletiek  |  Morris Gachaga  |  Stephen Mokoka  |  Onerun  |  Kaapstad  |  Padwedlope
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.