Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Oorsig: SA ontwaak as atletiekreus
Hou hom maar dop! Sokwakhana Zazini het vir die tweede agtereenvolgende jaar geen gelyke onder die juniors in die 400 m-hekkies gehad nie. Foto: Getty Images

Dinge het inderdaad in vier jaar verander.

Van net nege medaljes in die atletiekkompetisie by 2014 se Statebondspele en geen kampioene by die o.20-Wêreldkampioenskap in 2016 nie, sou dit as blote wensdenkery geag word om in 2018 meer van Suid-Afrika te verwag.

Tog kan Suid-Afrika nou met reg as ’n faktor beskou word.

’n Skitterende vertoning Doer Onder in April het verseker dat Suid-Afrika se atlete die Goudkus met 14 medaljes en vyf Statebondkampioene verlaat het. Net so het die groentjies in Julie in Tampere, Finland, met drie wêreldkampioene vanaf die o.20-Wêreldbyeenkoms teruggekom huis toe.

Caster Semenya het goud in die 800 en 1 500 by die Statebondspele gewen. Foto: Getty Images

Caster Semenya het steeds nie iemand wat haar werklik in die 800 m kan uitdaag nie en Luvo Manyonga het gewys hy het die temperament vir die groot oomblik.

Semenya en Manyonga het hul nommers oorheers.

Met vier nasionale rekords (in die 400, 800, 1 000 en 1 500), ’n Diamantliga-titel en twee goue medaljes op die Statebondspele, kan Semenya haarself ongelukkig ag dat sy nie eens ’n finalis was as die Internasionale Vereniging van Atletiekfederasies (IAAF) se Vroueatleet van die Jaar nie.

Met ’n persoonlike beste tyd van 1 minuut, 54.25 sekondes in die 800 het Semenya weer geen gelyke in haar voorkeurnommer gehad nie, terwyl Manyonga ook vir die eerste keer Statebond-glorie in die verspring geproe het.

Hou hom maar dop! Sokwakhana Zazini het vir die tweede agtereenvolgende jaar geen gelyke onder die juniors in die 400 m-hekkies gehad nie. Foto: Getty Images

Manyonga se spanmaat Ruswahl Samaai het ook gewys hy is nie net met tweede en derde plekke tevrede nie. Hy het Manyonga in Augustus in Asaba, Nigerië, om die Afrika-titel geklop. Manyonga het tweede geëindig.

Akani Simbine het boonop geskiedenis gemaak deur die eerste Suid-Afrikaner te word om in die 100 m goud te wen by die Statebondspele en as ’n kersie op die koek het sy landgenoot Henricho Bruintjies sommer silwer gewen.

’n Nasionale rekord van 38.24 sek. en die mans se 4x100 m-aflos-viertal van Bruintjies, Emile Erasmus, Anaso Jobodwana en Simbine kan hulself ook op die skouer klop nadat hulle silwer by die Spele gewen het.

Wenda Nel het ook haar eerste groot medalje hier verower met haar derde plek in die 400 m-hekkies.

Dié gesig is ’n omskrywing van doelgerigtheid. Zeney van der Walt wen goud by die o.20-Wêreldkampioenskap in Tampere, Finland. Foto: Getty Images

Clarence Munyai het die land se diepte onderstreep toe hy in Pretoria Wayde van Niekerk se nasionale rekord in die 200 m verbeter het met ’n tyd van 19.69 sek. – die tweede vinnigste in die wêreld in 2018.

Nadat sy verlede jaar die eerste keer tot dusver die 100 m-hekkies onder 13 sekondes gehol het, het Rikenette Steenkamp dit vanjaar sommer vyf keer gedoen. Sy het haarself ook as die beste in dié nommer in die land se geskiedenis onderskei.

Voeg die goue medalje by die Wêreldbeker-byeenkoms by haar uitslae en daar is geen twyfel dat die Tukkie gerus dopgehou kan word nie.

En wie kan die uitstekende vertonings van Sokwakhana Zazini, Zeney van der Walt en Kyle Blignaut in Tampere vergeet?

Zazini en Van der Walt het albei hul teenstanders afgeransel in die mans en vroue se 400 m-hekkies om goud te wen. Blignaut se kanniedood-houding met sy laaste poging in die gewigstoot het hom sy plek op die boonste trap van die podium verseker. Hy het met 22.07 m die voorste afstand in die wêreld in sy ouderdomsgroep gegooi.

Luke Davids wen die 100 m by die Olimpiese Jeugspele in Buenos Aires. Foto: Getty Images

Zazini het boonop die vier voorste tye in die wêreld op die stophorlosie vir o.20-atlete gesit – sy vinnigste was 49.32 sek.

Dan is daar natuurlik ook Luke Davids se oorwinning in die 100 m by die Olimpiese Jeugspele, in Buenos Aires, Argentinië. Dié 17-jarige bielie het die wenstreep in 10.15 sek. oorgesteek en hoewel die windlesing van +3.4 hom dalk uit die rekordboeke sal hou, was sy tyd die vinnigste in die wêreld onder die jonges.

Nee wat, Suid-Afrika. Slaap rustig, want dié slapende atletiekreus is besig om te ontwaak.

Meer oor:  Akani Simbine  |  Sokwakhana Zazini  |  Caster ­Semen­Ya  |  Suid-Afrika  |  Iaaf  |  Medaljes  |  Asa  |  Talent  |  Jaaroorsig
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.