Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Gatlin oortuig Tokio-goud is hom beskore

Die Amerikaanse blits Justin Gatlin sal raak-raak aan 40 wanneer die Olimpiese Spele in 2021 plaasvind, maar hy glo nietemin dat hy vir die eerste keer in 17 jaar Olimpiese goud in die 100 m kan wen.

In ’n onderhoud met TMZ Sports sê die 38-jarige Gatlin die ekstra jaar wat hy vir die skouspel moet wag, plaas hom beslis nie in die versoeking om vroeër uit te tree nie.

Justin Gatlin reken dat hy in 2021 op 39-jarige ouderdom steeds goud op die Olimpiese Spele in Tokio kan wen. Foto: Getty Images

“Ek dink baie mense reken dat die tyd teen my tel – of teen alle ouer atlete in hierdie situasie – maar dis ver van die waarheid af,” het Gatlin gesê.

As die Spele soos verwag in Julie en Augustus 2021 plaasvind, sal Gatlin sowat ses maande voor sy 40ste verjaardag probeer hakskene wys vir al die wêreld se ander vinnigste manne. Hy is gevra of hy dink hy sal steeds ’n aanspraakmaker op die goue medalje wees in Tokio – en hy het sonder huiwering instemmend geantwoord.

“My ingeligte raaiskoot is ja. Van 38 na 39 gaan nie so ’n groot verskil maak nie. Ek sê egter nog altyd dat ek nie gaan hardloop tot ek 40 is nie. Ek was hard op myself daaroor dat ek nie op 40 nog wil deelneem nie, maar nou lyk dit of ek naby daaraan gaan kom en steeds gaan hardloop.”

Gatlin het in 2019 nog 9.87 gehardloop en gewys dat hy dalk oud is, maar beslis nie koud nie. Dit was die vierde vinnigste tyd op die wêreldranglys vir die jaar.

Gatlin se landgenoot Christian Coleman was verlede seisoen die pasaangeër in die 100 m. Hy is bekroon as die wêreldkampioen en het ’n vinnigste tyd van 9.76 opgestel.

Die Amerikaanse aanslag word verder versterk deur Noah Lyles, wat al 9.86 gehardloop het.

Gatlin het verlede jaar aangedui dat 2020 se Tokio-spele sy laaste sal wees voordat hy beoog sy omstrede loopbaan te beëindig.

Die Amerikaner het in 2004 in Athene sy eerste Olimpiese goue medalje gewen toe hy in die 100 m in 9.85 sekondes geseëvier het. Dit was in daardie stadium sy persoonlike beste tyd.

’n Donker wolk is egter oor sy loopbaan gewerp toe hy in 2006 vir die gebruik van opkikkers vir agt jaar geskors is.

Dit was die tweede keer in sy loopbaan dat Gatlin hiervoor in die sop was. Hy is ook in 2001 vir twee jaar geskors, hoewel Wêreldatletiek (toe nog die Internasionale Vereniging vir Atletiekfederasies) sy skorsing opgeskort het nadat hy geappelleer het.

Hy sou eers weer in 2012 toegelaat word om deel te neem. Teen daardie tyd het alle naellopers egter beweeg in die skadu van die Jamaikaan Usain Bolt.

Bolt is in 2008, 2012 en 2016 as die Olimpiese kampioen in die 100 m bekroon.

Gatlin het die wêreld in 2017 geskok toe hy in die Wêreldkampioenskappe in Londen stof geskop het in Bolt se oë en op 35 as die kampioen bekroon is. In ’n suur wending het die hele stadion die Yank uitgejou.

Meer oor:  Olimpiese Spele  |  Atletiek  |  Tokio Spele  |  Justin Gatlin
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.