Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Oud-atleet Bennie Greyling sterf ná stryd met kanker
Bennie Greyling in 1987 in Stellenbosch in aksie. Foto: HOFFIE HOFMEISTER

Bennie Greyling, wat in 1982 as ’n 17-jarige atleet sy eerste droommyl gehardloop het, is in Pretoria aan kanker dood.

Dié voormalige Junior Springbok-atleet en Suid-Afrikaanse kampioen in die 1 500 m, was 50 jaar oud.

Hy het limfklier- en longkanker gehad, het sy vrou, Zelda (néé Gresse), ook ’n oud-middelafstandatleet, Vrydagmiddag gesê. Die kanker is in Maart verlede jaar by hom gediagnoseer.

Toe Greyling in 1982 as 17-jarige in Durban ’n tyd van 3:59.7 gehardloop het, was hy naas die legendariese Amerikaanse atleet Jim Ryun die jongste atleet nóg wat deur die droomgrens van vier minute gebars het.

“Ek onthou daardie wedloop. Ek het gewen en Bennie, wat toe nog baie baie jonk was, was so sesde of sewende,” het die oud-Springbok Johan Fourie (56), die eertydse mylkoning, Vrydagmiddag gesê.

Die vinnigste tyd nóg deur ’n junior word deur die Keniaan Ilham Tanui Özbilen (3:49.29 in 2009) gehou.

Hoewel hy nooit ’n Springbok geword het nie, was Greyling as ’n senior atleet een van die beste middelafstandatlete in die land.

Hy het in 1987 – ook in Durban – sy vinnigste myl van 3:54.59 gehardloop. Nog net vyf Suid-Afrikaners het al vinniger as dit vier keer om die atletiekbaan gehardloop.

Toe Fourie in 1988 VSA toe is, het Greyling die mantel as SA kampioen in die 1 500 m by hom oorgeneem.

“Ek het in daardie stadium tien keer ná mekaar die SA titel gewen. Toe ek weg is VSA toe, het ek gedink Deon Brummer sou by my oorneem, maar toe kom Bennie en hy wen die titel. As ek reg onthou, was Bennie daardie jaar onoorwonne,” het Fourie vertel.

Greyling, wat lank vir die Polisie-klub deelgeneem het, het ’n beste tyd van 2:18:03 in die 1 000 m aangeteken, 3:40.33 in die 1 500 m en 5:04.00 in die 2 000 m.

“Bennie (Greyling) was ’n fantastiese atleet wat nooit die lof gekry het wat hom toekom nie,” het die oud-Springbok Jean Verster gesê.

“Ons was van junior dae af gróót teenstanders, maar ook groot pêlle. As eerstejaarstudente by RAU (die eertydse Randse Afrikaanse Universiteit) in 1983, het ons saam by oom Stoffies (wyle Dirk Stoffberg) gewoon en saam geoefen,” het Verster gesê.

Greyling en sy vrou was 25 jaar lank getroud. Hul een seun, Ruan, het by die Olimpiese Jeugspele in Singapoer die silwermedalje in die 400 m gewen, terwyl hul ander seun, Lendo, ’n SA liggaamsbou-kampioen is.

’n Gedenkdiens vir Greyling word Maandagmiddag om 14:00 by die NG gemeente Noordoos-Pretoria in Kamferbosstraat 58, Kilnerpark, Pretoria, gehou.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.