Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Wilson Kipsang vas oor hy inperking minag

Wilson Kipsang, ’n voormalige wêreldrekordhouer in die marathon, is in hegtenis geneem omdat hy Kenia se inperkingsregulasies oortree het.

Wilson Kipsang, ’n voormalige marathon-wêreldrekordhouer, is in hegtenis geneem nadat hy Kenia se inperkingsregulasies oortree het. Foto: Getty Images

Die Keniaan, wat in 2013 in die Berlyn-marathon die wêreldrekord tot 2:03:23 verbeter het, moes kies tussen ’n boete van 5 000 sjieling of twee maande agter tralies.

Dit kom nadat hy Donderdag saam met ’n klomp ander mense in hegtenis geneem is terwyl hulle in ’n gewilde klub in Iten uitgehang het. Kragtens Kenia se inperkingsregulasies, wat sedert verlede week geld, mag niemand ná 19:00 buite wees nie.

Volgens Kenia se Daily Nation het Kipsang die aand saam met 20 ander mense in polisieselle deurgebring. Hulle is glo omstreeks 20:00 in die klub betrap.

“Die verdagtes het hulle in die klub toegesluit en was besig om drank te geniet ná die afsnytyd van 19:00,” het John Mwinzi, ’n polisie-bevelvoerder, aan Daily Nation gesê.

Die koerant berig die polisie is deur ’n lid van die publiek ingelig dat daar ’n lawaai by die klub is.

Die polisie moes die deure oopdwing om die oortreders in hegtenis te kon neem. Hulle is toe in ’n polisievoertuig gelaai en na die polisiekantoor geneem.

Die 38-jarige Kipsang het in 2012 die bronsmedalje op die Olimpiese Spele in Londen verower en spog met vyf groot marathon-seges agter sy naam.

Hy het in 2012 die Londen-marathon gewen, waarna hy in 2013 glorie in die Berlyn-wedloop geproe het.

In 2014 het hy die New York-marathon gewen en sy tweede titel in die Londen-marathon ingepalm.

Sy laaste groot oorwinning was toe hy die wenstreep eerste oorgesteek het in die Tokio-marathon in 2017, hoewel hy in 2018 ook ’n derde plek in Berlyn behaal het.

Sy marathon-wêreldrekord is al twee keer verbeter, albei kere in die Berlyn-marathon en albei kere deur van sy landgenote.

Dennis Kimetto het dit in 2014 tot 2:02:57 verbeter, voordat Eliud Kipchoge dit in 2018 oortref het in 2:01:39. – Sportredaksie, Sport24.com

Meer oor:  Wilson Kipsang  |  Inperking  |  Kenia  |  Marathon
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.