Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Oudpresident van Atletiek SA sterf

Atletiek Suid-Afrika (ASA) sê hy is hartseer om te verneem van die dood van ’n oud-president en stigterslid, Leonard Chuene (68) Vrydag.

“Daar kan nie oor Suid-Afrika se moderne atletiekgeskiedenis gepraat word sonder om Chuene se naam te noem nie,” lui ’n verklaring van ASA Saterdag.

“In die 1990’s was Chuene, saam met Banele Sindani, aan die voorpunt van die versoeningsproses. Hy is gerespekteer vir die groot rol wat hy in die vroeë negentigerjare in gesprekke oor transformasie in atletiek gespeel het. In hierdie verband sal sy bydraes tot die ontwikkeling van die sport vir altyd uitstaan.”

Leonard Chuene Foto: Dudu Zitha

Aleck Skhosana, hoof van ASA, het Saterdag gesê hulle wag vir die familie om inligting oor die oorsaak van sy dood bekend te maak.

Chuene het in 1995 voorsitter van ASA geword ná die eenwording van die Suid-Afrikaanse atletiekkongres en die Suid-Afrikaanse amateuratletiek-unie. Hy het ASA tot in 2011 gelei.

Hy het tussen 1987 en 2000 12 Comrades-marathons voltooi en 11 bronsmedaljes en een silwermedalje verower. Hy het in 1991 op 38-jarige ouderdom sy beste tyd van 07:19:25 behaal in ’n afwedloop tussen Pietermaritzburg en Durban.

“Sy geesdrif vir ontwikkeling en transformasie was die eienskappe wat daartoe gelei het dat hy in 1999 tot die raad van die Internasionale Vereniging van Atletiekfederasies (nou Wêreldatletiek) verkies is as die Afrika-verteenwoordiger,” lui ASA se verklaring.

“Hy was ’n ywerige atleet wat gedurende sy ampstermyn as ASA-president in die kleure van Diepkloof-atletiekklub gehardloop het.

“Namens die atletiekfamilie dra ons ons innige meegevoel oor aan die Chuene-familie, vriende en sy voormalige kollegas in die sportgemeenskap,” sê Skhosana.

“Hy was ’n goeie administrateur wat nie sou wou wegskram van moeilike kwessies om die weg vir ons atlete te baan nie, en dit is hoe ons verkies om hom te onthou.”

Leonard Chuene, oudvoorsitter van ASA, skud oudpres. Nelson Mandela se hand tydens ’n besoek aan sy kantoor in Houghton, Johannesburg in 2009. By hulle staan die atlete Mbulaeni Mudlaudzi, Caster Semenya en Khotso Mokoena. Foto: John Hogg/Nelson Mandela-stigting

“Van sy vroeë dae af as president van ASA het hy die stryd gevoer om die onreg wat deur apartheid geskep is, reg te stel. Daarom sal Leonard Chuene altyd in ons harte wees,” sê hy.

“ASA, wat in verbinding was met die Chuene-familie, wag nou op verdere besonderhede en instruksies nadat die gesin byeengekom het om met die voorbereidings vir die begrafnis te begin.”

Die Comrades-marathonvereniging (CMA) het ook in ’n verklaring gesê hy is hartseer oor die “tragiese, ontydige afsterwe” van ’n erelid en ’n groennommer-deelnemer.

“Sy geesdrif vir die Comrades-marathon en atletiek sal deur baie mense onthou word, sowel as sy bydrae tot die sport gedurende sy lang termyn by ons atletiekfederasie,” sê Cheryl Winn, voorsitter van die CMA.

“Ons dink aan sy geliefdes in hierdie hartseer tyd.”

Meer oor:  Atletiek Suid-Afrika  |  Atletiek  |  Dood
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.