Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Paalspring-ster gee dalk burgerskap op

Die gesloer rondom die status van die omstrede Russiese Atletiekfederasie (Rusaf) en die opskorting van neutrale atlete van Rusland se regte om aan internasionale byeenkomste deel te neem, kan een van dié land se wêreldkampioene noop om van nasionaliteit te verander.

Anzhelika Sidorova van Rusland kan dalk burgerskap in ’n ander land probeer verkry sodat sy weer aan atletiek kan deelneem. Foto: Getty Images

So het Anzhelika Sidorova, die verdedigende wêreldkampioen in die paalspring, gesê te midde van die voortslepende konflik tussen Wêreldatletiek en Rusaf.

Geen Russiese atleet word tans toegelaat om aan internasionale byeenkomste deel te neem nie, nie eens onder ’n neutrale vaandel nie. Dít nadat Rusaf versuim het om teen die sperdatum van 1 Julie ’n stywe boete aan Wêreldatletiek te betaal.

“Vier jaar gelede sou ek my nie eens kon indink dat ek nou dit (’n verandering van nasionaliteit) sou oorweeg nie. Ek was destyds volkome teen die verandering van burgerskap. Nou oorweeg ek daardie opsie, maar dit is die laaste punt op my lys van prioriteite en ek hoop nie ek word gedwing om dit te doen nie,” het Sidorova volgens die Russiese nuusagentskap TASS gesê.

Rusaf is al sedert 2015 deur Wêreldatletiek geskors ná die beweerde knoeiery met toetse vir verbode middels.

Dié skorsing is sedertdien verskeie kere verleng.

Wêreldatletiek het vroeër vanjaar vir Rusaf ’n boete van $5 miljoen opgelê nadat hy dokumente van die Russiese hoogspringer Danil Lysenko vervals het met betrekking tot die redes waarom hy toetse vir die verbruik van verbode middels misgeloop het.

Dié boete moes teen die begin van Julie betaal word indien Rusland steeds wou hê dat individuele atlete aan byeenkomste mag deelneem onder die vaandel van neutrale deelnemers.

Wêreldatletiek het op 2 Julie bevestig dat dié bedrag nie betyds betaal is nie.

Dit is ’n f****n skande, byna vyf jaar en hier is ons weer in dieselfde posisie.

Russiese beamptes het gesê die rede dat hulle nie die sperdatum kon haal nie, was omdat Rusaf nie genoeg fondse het nie.

Wêreldatletiek sal nou Rusland se lot, wat sy deelname aan die Olimpiese Spele in 2021 in Tokio insluit, in ’n videokonferensie aan die einde van die maand bespreek.

Sidorova, wat verlede jaar in Doha goud gewen het op die Wêreldkampioenskappe toe sy op ’n hoogte van 4,95 m oor die dwarslat geseil het, het op Instagram haar frustrasie uitgedruk oor Rusland se hantering van die situasie.

“Dit is ’n f****n skande, byna vyf jaar en hier is ons weer in dieselfde posisie,” het sy gesê.

“Wie is jy sonder atletiek? Wie is jy sonder jou beroep? Dit gaan nie net oor my nie en ook nie net oor ander atlete nie,” het sy bygevoeg.

Sy het verlede maand ook ’n ope brief aan Wladimir Poetin, Rusland se president, gerig waarin sy wil weet hoekom hy nie verder ingryp nie.

“Die krisis in atletiek sleep al voort sedert 2015,” het sy toe geskryf.

“Op 3 Mei verlede jaar het jy die ROC (Russiese Olimpiese Komitee) aanbeveel om op te tree en die Russiese Atletiekfederasie se lidmaatskap teen 2 Desember 2019 weer ingestel te kry.”

Sy sê verder dat Poetin só gewys het dat hy wel atletiek as belangrik ag, maar dat dié proses steeds nie voltooi is nie.

“Sedertdien is nagenoeg ’n jaar al verby en die proses is steeds nie voltooi nie en die situasie het net vererger,” het sy bygevoeg. – Sportredaksie

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.