Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Pasaangeër wen Abu Dhabi-marathon

Die pasaangeër speel ’n kernrol in veeleisende langafstand-nommers soos die marathon. Dié persoon kan ’n groot invloed op atlete se tye hê.

Maar wat gebeur wanneer die pasaangeër besluit hy wil ook ’n deelnemer wees?

Reuben Kipyego van Kenia het die Abu Dhabi-marathon gewen nadat hy as pasaangeër ingeskryf was. Foto: Twitter

Dié bisarre voorval het hom juis in die onlangse Abu Dhabi-marathon afgespeel toe Reuben Kipyego ná 30 km besluit het hy gaan sommer die wedloop voltooi.

Die 23-jarige Keniaan was veronderstel om uit te val nadat hy die 30 km-merk verbygesteek het, maar die wêreld se voorste langasems sal in die toekoms twee keer dink voordat hulle hom weer as ’n pasaangeër betrek.

Met die prysgeld van $100 000 en Kipyego steeds voor in die koor, het hy met minder as 15 km oor in die wedloop besluit dat die ekstra bedraggie nie te versmaai is nie.

Gevolglik het hy uitgehou en nie net gewen nie, maar ook die vinnigste tyd in sy lewe – 2 uur, 4 minute, 40 sekondes – opgestel.

“Die toestande was ideaal en die pad was pragtig,” het hy ná sy ongewone oorwinning gesê.

“Ek sien reeds uit daarna om na Abu Dhabi terug te keer om my titel te verdedig,” het hy bygevoeg.

’n Pasaangeër val normaalweg voor die wenstreep uit, maar word wel toegelaat om die wedloop te voltooi as hulle wil.

Kipyego, wat sonder ’n nommer deelgeneem het met net die woorde “Pace M2” op sy bors, het boonop die tweede helfte van die wedloop vinniger as die eerste helfte gehardloop.

Hoewel die res van die deelnemers nie noodwendig beïndruk was nie, sal Kipyego nog lank breed glimlag oor die prysgeld.

Hoewel dit ongewoon is vir ’n pasaangeër om wedlope te voltooi, is Kipyego nie die eerste persoon wat dit in ’n groot wedloop gedoen het nie.

Paul Pilkington, ’n Amerikaner, het dieselfde gedoen in 1994 toe hy die Los Angeles-marathon gewen het, terwyl Simon Biwott, ook ’n Keniaan, dit ook gedoen het toe hy in 2000 die Berlyn-marathon gewen het.

– Sportredaksie, Reuters

Meer oor:  Atletiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.