Rusland is ’n tree nader daaraan om weer onder sy nasionale vaandel aan internasionale atletiekbyeenkomste deel te neem.
Dit kom nadat Wêreldatletiek Maandag planne goedgekeur het vir die hervorming van die sport in Rusland nadat hy geskors is vir oortredings wat met verbode middels verband hou.

Sebastian Coe, president van Wêreldatletiek Foto: Getty Images
Die plan, wat in ’n dokument van 31 bladsye uiteengesit word, word beskryf as ’n “laaste kans en dringende poging” vir verandering nadat Rusland in 2015 uit alle internasionale atletiekbyeenkomste geskors is.
Verskeie sperdatums is vir die komende jaar gestel.
Dit sluit onder meer teikens vir meer omvattende toetse vir die gebruik van verbode middels in.
Sebastian Coe, president van Wêreldatletiek, het dié plan as ’n “poging om vertroue te herstel” bestempel.
“Dit is nie die einde nie, maar eerder die begin van ’n lang tog, met ongelooflik baie werk wat voorlê vir Rusaf (die Russiese Atletiekfederasie) om vertroue te herwin,” het Coe gesê.
Nog geen datums is vasgestel vir Rusland se hertoetrede tot Wêreldatletiek nie, maar ’n gedetailleerde tydraamwerk met betrekking tot die sport se bestuur, befondsing, veldtog teen die gebruik van verbode middels en opleiding van atlete is uiteengesit en sal noukeurig gemonitor word.
Wêreldatletiek vereis verder dat die Russe nuwe beleide instel om fluitjieblasers aan te moedig, asook maatreëls wat ongenadig is teenoor diegene “wat hulle teen verandering verset” en om meer insette toe te laat van atlete oor hoe sport in die land bestuur moet word.
Luidens die verslag word geglo dat Rusaf dié teikens sal kan haal, maar daar word ook opgemerk dat “dit tot ’n generasie lank kan neem om ’n onomkeerbare kultuur te verander”.
Wêreldatletiek sê verder dat hy op 17 en 18 Maart gaan vergader en sal besluit of Russiese atlete, wat genoegsame bewyse kan lewer dat hulle nie by verbode middels gebaat het nie, wel aan die Olimpiese Spele in Tokio mag deelneem.
Sou dié atlete die groen lig kry, sal hulle as neutrale atlete moet deelneem. Dit beteken dat hulle nie in Russiese drag mag verskyn nie, die landsvlag nie vertoon mag word nie en dat die Russiese volkslied nie gespeel mag word nie. – Sportredaksie, BBC.com