Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Asafa Powell (37) nael weer in Jamaika

Asafa Powell het die naweek in Kingston, Jamaika, uiteindelik na die atletiekbaan teruggekeer, maar dit is steeds Suid-Afrika se Akani Simbine wat boaan vanjaar se wêreldranglys vir naellopers pronk.

Asafa Powell (37) het die naweek sy eerste wedloop van die jaar agter die rug gekry. Foto: Getty Images

Powell, wat voorheen ’n wêreldrekordhouer in die 100 m was, het op 37-jarige ouderdom op die Velocity Fest-atletiekbyeenkoms in sy eerste wedloop van die jaar in die blokke gesak.

Dié gouemedaljewenner op die Statebondspele in 2006 kon egter net ’n tyd van 10.51 sekondes vermag teen ’n lastige wind van voor (-2,2 m/s) en moes uiteindelik met die vyfde plek tevrede wees.

Nesta Carter, wat in 2017 geskors is nadat sy monster van die Olimpiese Spele in Beijing (in 2008) jare later positief vir opkikkers getoets het, het in 10.38 met die louere weggestap.

Dit was die einste Carter se opkikkertoets wat Usain Bolt van ’n goue medalje ontneem het nadat dié twee albei deel van die seëvierende Jamaikaanse 4x100-aflosspan in Beijing was.

Tyquendo Tracey, die 100 m-kampioen op atletiek se Wêreldbekerbyeenkoms in 2018, was in 10.39 die naasbeste.

Akani Simbine is steeds die enigste atleet in die wêreld wat in 2020 al onder 10 sekondes in die 100 m kon hardloop. Foto: Reg Caldecott

Simbine bly steeds die enigste atleet wat al in 2020 die 100 m in onder 10 sekondes kon nael. Hy het 9.91, net-net stadiger as sy persoonlike beste tyd van 9.89, in Maart by Tuks gehardloop in sy eerste, en tot op hede enigste, wedloop van die seisoen.

Die Amerikaner Trayvon Bromell se 10.04 in Florida verlede week besorg aan hom die tweede plek.

Die derde en vierde plekke hoort ook aan Suid-Afrikaners met Phatutshedzo Maswanganyi (10.06) en Henricho Bruintjies (10.08) in onderskeidelik die derde en vierde plek.

Shelly-Ann Fraser-Pryce, die verdedigende 100 m-vrouewêreldkampioen, was die naweek die groot uitblinker toe sy die VSA se Sha’Carri Richardson op die wêreldranglys verbygesteek het om, ten spyte van ’n -2,2 m/s-windlesing, die eerste plek in 11.00 in te neem.

Richardson het verlede week 11.05 in Florida gehardloop.

Shericka Jackson het in Kingston vir ’n klein opskudding gesorg toe sy Elaine Thompson-Herah, die Olimpiese kampioen, in die 200 m geklop het.

Jackson, wat verlede jaar in Doha brons in die Wêreldkampioenskappe verower het, het die wenstreep in 22.89 oorgesteek, met Thompson, in haar eerste wedloop sedert sy in November getrou het, wat naasbeste in 22.98 was.

Julian Forte het in die mans se 200 geseëvier in 20.71, maar moes met die sterkste ongunstige windlesing van die dag (-2,9 m/s) rekening hou. Rasheed Dwyer was tweede in 21.06.

Tajay Gayle, wat verlede jaar verras het toe hy in die Wêreldkampioenskappe vir verspring op die boonste trap van die podium gestaan het, het sy seisoen geopen met ’n afstand van 8,52 m, maar ’n sterk wind van agter (+4,5 m/s) het verhoed dat dié uitslag amptelik erken kan word. Sy naasbeste sprong van 8,23 m (+1.6 m/s) is wel erken en het aan hom die vyfde plek op vanjaar se wêreldranglys besorg.

Meer oor:  Atletiek  |  Asafa Powell  |  Jamaika
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.