Tokio se nuwe Olimpiese Stadion sal in Mei 2021 sy eerste kleedrepetisie hê wanneer hy Wêreldatletiek se Kontinentale Toer se “Goue-byeenkoms” aanbied.

’n Lugfoto van die Olimpiese Stadion in Tokio wat volgende jaar die atletiek tydens dié skouspel sal aanbied. Foto: Getty Images
Die byeenkoms, wat op 9 Mei gehou sal word, sal dien as ’n proeflopie vir die Olimpiese skouspel wat minder as 12 weke later sal begin en waarvan die atletiek in dié stadion gehou sal word.
Die stadion, wat voorheen as Japan se Nasionale Stadion bekend gestaan het, het opknappingswerk van $1,4 miljard ondergaan vir die Olimpiese en Paralimpiese Spele en sal ook gasheer speel vir die opening- en afsluitingseremonie.
Die nuwe ontwerp kan tot 68 089 mense huisves tydens ’n atletiekbyeenkoms. Tydelike sitplekke kan op die baan bygevoeg word om die kapasiteit tot 80 016 te vermeerder.
In dié stadium sal die stadion na verwagting 60 102 mense tydens die Olimpiese Spele huisves, met areas wat spesifiek aan die media en BBP’s toegeken sal word.
Sebastian Coe, president van Wêreldatletiek, het in Oktober ’n besoek aan die stadion afgelê en Tokio aangemoedig om ’n bod in te dien om weer die Wêreldkampioenskap aan te bied nadat die land dit laas in 1991 gedoen het.
Die Olimpiese Stadion het in Augustus die Seiko Goue Grand Prix-byeenkoms aangebied. Dit was ook deel van Wêreldatletiek se Kontinentale Toer se “Goue-byeenkomste”, maar weens die Covid-19-pandemie, is geen toeskouers toegelaat nie. – Sportredaksie, insidethegames.biz