
Marius van Heerden (2124) in 1996 op die Olimpiese Spele in Atlanta in die 800 meter vir mans in aksie. Foto: Gallo Images
Die voormalige Olimpiese atleet Marius van Heerden, wat in 1996 die 25 jaar oue Suid-Afrikaanse rekord van die oud-Springbok Dicky Broberg en Marcello Fiasconaro in die 800 meter vir mans oortref het, is Vrydag in ’n Kaapstadse hospitaal aan Covid-19 dood.
Hy was 46 jaar oud en het sowat ’n week gelede siek geword.
Van Heerden, ’n boorling van die Swartland, word deur sy vrou, Petra, en twee seuns, Tiaan en Hugo, oorleef.
Hy het Broberg en Fiasconaro se gesamentlike rekord van 1 minuut 44.7 sekondes op 12 April 1996 in die ou Groenpunt-stadion in Kaapstad voor 10 000 toeskouers tot 1:44.57 verbeter.

’n Meer onlangse foto van Marius van Heerden, wat in die ouderdom van 46 gesterf het. Foto: Facebook
Broberg het die rekord in 1971 in Stellenbosch opgestel en Fiasconaro, wat later in die kleure van Italië ’n wêreldrekord van 1:43.7 gehardloop het, het dit twee jaar later in Johannesburg geëwenaar.
Die legendariese oud-Springbok-middelafstandatleet Johan Fourie wat daardie aand ’n toeskouer in die Groenpunt-stadion was toe Van Heerden die rekord oortref het, sê dit was een van die beste 800-wedlope wat hy nog gesien het.
“Dit was veral die manier hóé hy dit gedoen het wat ek onthou – vreesloos en met guts,” het Fourie Vrydagmiddag gesê.
Johan Botha, ’n eertydse binnenshuise wêreldkampioen in die 800, sê hy en Hezekiel Sepeng, ’n voormalige Olimpiese silwermedaljewenner, het altyd geweet wanneer hulle in die Kaap gaan hardloop het, het ’n moeilike wedloop teen Van Heerden gewag.
“Hy was veral in die Kaap – of dit nou op Coetzenburg (Stellenbosch) of in die Groenpunt-stadion was – altyd op sy beste. Kliphard, ’n masjien,” sê Botha.
“Ons was op die baan groot teenstanders, maar van die baan af baie groot vriende. Tot vandag toe.
“Toe ek vanoggend hoor Marius is dood, het ek in my kamer gaan sit en huil,” het Botha gesê. “Hy was ’n baie nederige mens.”
In dieselfde jaar wat Van Heerden die nuwe SA rekord in Kaapstad opgestel het, het hy Suid-Afrika in die 800 op die Olimpiese Spele in Atlanta verteenwoordig.
Hy is in die uitdunne uitgeskakel. In die eindronde het Sepeng op pad na sy silwermedalje Van Heerden se SA rekord tot 1:42.74 verbeter.
Sepeng kon nie vir kommentaar bereik word nie, maar hy het op Facebook geskryf dit was ’n eer om Van Heerden te kon ken en wonderlike oomblikke saam met hom op die atletiekbaan te beleef.
“Ons het mekaar hard gedruk en die atletiekbane aan die brand gehardloop om daai rekord (van Broberg en Fiasconaro) te oortref.
“Jy het die rekord voor my gebreek, maar dit was lekker om hom by jou af te neem! Rus in vrede.”
Eben Human, afgetrede atletiekskrywer van Die Burger wat baie jare oor Van Heerden se wedlope geskryf het, sê: “Marius was stil, effens teruggetrokke, maar altyd vriendelik. Hy het verkies dat sy voete die praatwerk doen met sy top-tye in veral die 800.
“Daardie aand in die Groenpunt-stadion het Marius die ys vir die nuwe geslag 800 m-atlete gebreek.
“Dit het die weg gebaan vir skittertye later deur Hezekiel Sepeng (1:42.69) Johan Botha (1:43.91), Werner Botha (1:44.41) en wyle Mbulaeni Mulaudzi (1:42.86),” sê Human.