Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Rekords vir Duplantis en Steenkamp
Armand Duplantis het die afgelope naweek die tweede keer die wêreldrekord in die paalspring verbeter. Foto: Getty Images

Presies ’n week nadat hy die paalspring-wêreldrekord verbeter het, het die jong sensasie Armand Duplantis, of Mondo soos hy ook bekend is, weer só gemaak.

Duplantis het op 8 Februarie in Pole op ’n hoogte van 6,17 m oor die dwarslat geseil om die wêreldrekord te verbeter. Saterdag, presies ’n week ná daardie sprong, het hy weer so gemaak om nóg ’n sentimeter by sy eie wêreldrekord te voeg.

Die Amerikaans gebore Sweed het tydens die Müller- binnenshuise Grand Prix-byeenkoms in Glasgow, Skotland, die skare op hul voete gehad toe hy oor die dwarslat geseil het op 6,18 m om die kollig te steel.

Met net meer as vyf maande voor die Olimpiese Spele in Tokio begin, sal hy reeds as die groot gunsteling in dié item beskou word. Hy sal vanjaar sy buiging by die Spele maak.

Die wêreldkampioen en Olimpiese bronsmedaljewenner, Sam Kendricks van Amerika, was die naasbeste met 5,75 m.

Suid-Afrika se Rikenette Steenkamp het by dieselfde byeenkoms ’n nuwe bladsy in die geskiedenis van Suid-Afrikaanse atletiek geskryf toe sy die nasionale binnenshuise rekord in die 60 m-hekkies aan flarde gehardloop het.

Steenkamp, wat verlede jaar in Doha, Katar, haar buiging by die Wêreldkampioenskap in die 100 m-hekkies gemaak het, het in Glasgow in die uitdunne die wenstreep in ’n haastige tyd van 8.29 sekondes oorgesteek.

Hiermee het sy meer as ’n sekondes gesny aan die vorige Suid-Afrikaanse rekord van 9.44 s, wat gesamentlik deur Winnie de Winnaar en Simoné Reinders gehou is.

De Minnaar se rekord is reeds in 2004 opgestel, met Reinders wat dit in 2015 geëwenaar het.

Steenkamp het in die eindronde ’n sewende plek in 8.34 sek. behaal met Alina Talay van Belarus wat in 8.03 sek. gewen het.

In die 60 m het die Jamaikaanse blits Shelly-Ann Fraser-Pryce met goud weggestap in 7.16 sek, met die Ivoorkus se Murielle Ahouré wat silwer gevat het in 7.22.

Die Brit Laura Muir het weer gemaklik met die louere weggestap in die 1 000 m waar sy die wenstreep in 2:33.47 oorgesteek het vir haar eerste plek.

* Wayde van Niekerk het Maandagaand sy litte losgemaak op ’n klein nieamptelike Kovsie-byeenkoms waar hy die 100 m in ’n handtyd van 10.20 sek. op ’n grasbaan gewen het.

Dit was sy eerste wedloop sedert Februarie verlede jaar toe hy die 400 by die Vrystaatse byeenkoms gewen het.

Hy het ook sy slag in die 800 m gewys waar hy in 1:57.00 klaargemaak het.

Albei wedlope is net as oefenlopies gebruik om te kyk of hy dit sonder probleme kan voltooi.

Meer oor:  Atletiek  |  Rikenette Steenkamp  |  Iaaf  |  Armand Duplantis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.