Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Rocco kan tas vir Tokio pak ná yslike gooi

Die spiesgooier Rocco van Rooyen het homself vroeg in die seisoen onderstreep as iemand om dop te hou as ’n moontlike verrassingspakket vir die Olimpiese Spele met ’n merkwaardige vertoning in Parow in die Wes-Kaap.

Rocco van Rooyen. Foto: Gallo Images

Van Rooyen het Saterdag aan ’n ligabyeenkoms deelgeneem waar hy tot in die tweede plek op Wêreldatletiek se ranglys vir 2021 ingeskuif het met sy beste poging van 85,97 m.

Van Rooyen, in sy eerste byeenkoms van die jaar, het die seisoen op die perfekte noot begin en was geheel en al in ’n klas van sy eie onder sy teenstanders.

Hy het met sy eerste gooi die maatband tot 82,38 m laat strek, waarna hy dit opgevolg het in sy tweede ronde met 77,61 m, voordat hy in die derde én vierde én vyfde ronde weer die 80 m-kerf verbygesteek het.

Sy beste poging het in die vierde ronde gekom, met 80,58 m en 82,55 aan weerskante van dié poging.

“Dit was die eerste byeenkoms van die jaar so ek het nog nie alles ingesit nie. Dit het meer daaroor gegaan om te kyk waar ek is en dan kan ek dit verder van daar af vat,” het Van Rooyen by navraag gesê.

“Dit was wel vir my ’n goeie teken dat ek só ’n begin tot die seisoen kon hê.

“Ek voel gelukkig nog of my beserings iets van die verlede is en my liggaam in goeie kondisie is. Ek doen wel baie meer moeite as ooit om dit so te hou en is baie meer selektief in wat ek doen.

Dit was die eerste byeenkoms van die jaar so ek het nog nie alles ingesit nie.
Rocco van Rooyen

“Ek moes maar deur die jare leer hoe om versigtig te wees, maar solank as wat ek ’n gesonde lyf het, kan ek toepas wat ek leer.

Nog net die Duitser en 2017 se wêreldkampioen, Johannes Vetter, kon vanjaar al verder gooi.

Vetter beklee tans die voorste plek op die wêreldranglys met 87,27 m, ’n afstand wat hy Vrydag in Offenburg in sy geboorteland behaal het.

Die Belarus Pavel Mialeshka het ná Van Rooyen se vertoning afgeskuif tot die derde plek met sy 83,85 m.

Ofskoon dit nog vroeg die seisoen is, het Van Rooyen nou amptelik seker gemaak van sy plek vir die Olimpiese Spele in Tokio, waar ’n kwalifiserende afstand van 85,00 m vereis word.

Hy het in 2020 die derde plek op die wêreldranglys beklee nadat hy einde November ’n afstand van 87,62 m behaal het, wat die kwalifiserende standaard ook oortref het, maar nie binne die wêreldliggaam se kwalifiseringstydperk beland het nie.

Dié afstand, wat hy op 28 November vermag het, was drie dae te vroeg vir Wêreldatletiek se Olimpiese stelsel, wat, ná die Tokio-Spele verlede jaar uitgestel is, opgeskort was van 6 April tot 30 November.

Dit het egter op 1 Desember weer hervat, met Van Rooyen se afstand in Parow wat hiervoor sal tel.

“Gelukkig was dit nou in die regte tydgleuf,” sê Van Rooyen. “Al die tekens is daar vir ’n goeie jaar, so hopelik dra genade my nou deur.”

Parrish Sherman, meer bekend as ’n naelloper, het ’n beste poging van 36,20 m gehad.

Dit was die enigste ander deelnemer in Parow wat ’n wettige afstand kon vermag en hy het gevolglik die tweede plek beklee.

Van Rooyen se fokus sal nou skuif na ’n byeenkoms in Potchefstroom op 16 Maart, waar hy die eerste keer in ’n geruime tyd deeglik beproef sal word.

“Daar gaan heelwat deelnemers van oorsee af daar wees wat vir oefenkampe in Suid-Afrika is, so dan ek myself weer toets teen van die bestes,” sê hy.

Meer oor:  Olimpiese Spele  |  Atletiek  |  Tokio-Spele
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.