Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Rocco wil nie net getalle vol maak in Tokio
Rocco van Rooyen wil hê die wêreld moet van hom kennis neem op die Tokio-Spele. Foto: Gallo Images

Ná ’n besoek aan Finland, wat ’n silwer- en ’n bronsmedalje opgelewer het, gaan die spiesgooier Rocco van Rooyen sy Europese seisoen – in ’n poging om sy Olimpiese droom te verwesenlik – kortknip.

Dié Suid-Afrikaner, wat aanvanklik vir sewe weke lank oorsee sou deelneem, gaan ná net drie weke terugkeer en sal nou verder in sy agterplaas vir die skouspel in Tokio slyp.

“My hoop is nie net om die eindronde te haal op die Tokio-Spele nie. Dit is net stap een,” het die 28-jarige vanuit Finland gesê. “Ek wil ’n medalje wen.”

Van Rooyen is sover vanjaar een van die voorste atlete in dié nommer en het boonop al op vier byeenkomste verder as 80 m gegooi.

Hy het Dinsdag in Turku aan Wêreldatletiek se Kontinentale Toer se Goue byeenkoms deelgeneem, waar sy afstand van 82,55 m goed genoeg vir ’n derde plek was.

“Dit het goed gegaan, maar ek het met my vierde gooi gevoel my lies trek ’n bietjie, so daarna was ek baie versigtig met my vyfde poging en het ek die sesde heeltemal gelos.

Ek is oortuig dat ek die 90 m-merk kan haal, maar ek weet dit gaan nog heelwat oefening en ’n bietjie van ’n kopskuif verg.
Rocco van Rooyen

“Ek is oortuig dat ek die 90 m-merk kan haal, maar ek weet dit gaan nog heelwat oefening en ’n bietjie van ’n kopskuif verg.”

Sy beste poging van 85,97 m, in Februarie, plaas hom in die sewende plek op die wêreldranglys vir 2021.

“As ek nou aan die regte goed werk en gesond bly, voel ek dat daar beslis ’n kans is om ’n medalje te wen as ek in die hoë 80’s kan gooi.

“Die slimste ding is om nou huis toe te kom, te gaan skaaf aan dít wat ek geïdentifiseer het en daarna sien ek uit om Olimpiese Spele toe te gaan.”

Die spiesgooier Rocco van Rooyen het nog geglimlag, selfs nadat hy vir twee dae op ’n lughawe in Helsinki gestrand was. Foto: Verskaf/Rocco van Rooyen

Nadat Van Rooyen op 23 Mei op ’n vlug na Helsinki vertrek het, het sy Europese uitstappie vinnig in ’n nagmerrie ontaard. Hy moes dae lank op die lughawe in Helsinki slaap weens uitstaande dokumente wat deur die Finse doeanebeamptes vereis is. Dit was so hittete of hy het teruggekeer Suid-Afrika toe sonder dat hy sy voete buite die lughawe kon sit.

Enkele minute voordat hy na die vertreksaal moes gaan, kon hy wel die nodige dokumentasie verkry.

Hy reken die twee byeenkomste waaraan hy deelgeneem het, het vir hom duidelik gewys aan watter elemente van sy tegniek hy moet skaaf.

“Jy leer elke keer wat jy oorsee deelneem iets nuut van jouself. Dit is heeltemal anders as om tuis deel te neem.

“Dit is baie makliker om jou tegniek reg te kry as jy nie juis stres nie, want dit is net vriende en familie wat na jou kom kyk. Hier (in Finland) loop die stres egter hoog en vergeet ’n mens so ’n bietjie jou tegniek, maar dit is belangrik om aan die omstandighede gewoond te raak.

Tog gooi ek deurlopend verder as 80 m. Ek sien daarom baie uit om te sien hoe ek vaar wanneer ek eers weer my gemaksone betree.
Rocco van Rooyen

“Ek het glad nie naby aan die perfekte gooi hier gekom nie en heelwat met my aanloop en gradiënte van my gooie gesukkel. Tog gooi ek deurlopend verder as 80 m. Ek sien daarom baie uit om te sien hoe ek vaar wanneer ek eers weer my gemaksone betree.”

Die kansellasie van die Afrika-kampioenskappe, wat op 23 Junie in Lagos, Nigerië, sou begin, krap ook nie sy planne juis deurmekaar nie.

“Die kampioenskappe sou lekker gewees het voor die Spele, maar dit is ook nice om meer tyd te hê om agter geslote deure myself skerp te kry.”

Meer oor:  Rocco Van Rooyen  |  Finland  |  Suid-Afrika  |  90 M  |  Spiesgooier  |  Medalje  |  Olimpiese Spele  |  Atletiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.