Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Rusland: ‘Atlete sál by Spele wees’

Rusland se voorste atlete sal ’n kans kry om volgende jaar aan die Olimpiese Spele in Japan deel te neem.

Die Russiese sportminister, Oleg Matytsin, het dié stelling gemaak al is Rusland nog vir die volgende twee jaar uit internasionale sport geskors.

Oleg Matytsin, die Russiese sportminister, glo Rusland se voorste atlete sal by die Olimpiese Spele in Tokio in aksie wees. Foto: Getty Images

Matytsin glo egter dat waar baie van die land se sportlui nie hul slag volgende jaar by die Tokio-skouspel sal kan wys nie, die moontlikheid daar is dat dinge anders vir atletiek kan lyk.

“As ons oor atlete in atletiek praat, moet ek sê dat ons verhouding met Wêreldatletiek ’n konstruktiewe fase betree het,” het Matytsin aan die Russiese nuusagentskap, Tass, gesê.

“Ons het ons foute van die verlede aanvaar, nuwe leierskap gekies vir die Russiese Atletiekfederasie (Rusaf), en ons is nou aktief besig om te onderhandel oor die herinstelling van sy lidmaatskap.

“Ek is positief dat ons voorste atlete in atletiek die groen lig gegee sal word om deel te neem aan internasionale byeenkomste, insluitend die volgende Olimpiese Spele,” het Matytsin gesê.

Wêreldatletiek het Rusaf se lidmaatskap in 2015 opgeskort ná ’n rits oortredings van opkikker-reëls.

Russiese atlete wat genoegsame bewys kon lewer dat hulle nie baat by enige opkikkers gevind het nie, is wel toegelaat om as neutrale atlete hul slag te wys.

Die neutrale status verhoed egter Russiese atlete om onder die nasionale vaandel aan enige internasionale byeenkomste deel te neem.

As ons oor atlete in atletiek praat, moet ek sê dat ons verhouding met Wêreldatletiek ’n konstruktiewe fase betree het.
Oleg Matytsin

Matytsin sê verder dat die feit dat hul atlete nie die Russiese vlag mag wapper nie, ’n duur prys vir die land was om te betaal.

Die internasionale hof vir sportarbitrasie (CAS) het op 17 Desember beslis dat verskeie skorsings teen Rusland vir nog twee jaar geldig is.

Dié beslissing in die hof, wat in Switserland gesetel is, handel oor ’n regsdispuut tussen die Russiese agentskap teen die gebruik van verbode middels (Rusada) en sy wêreld-eweknie, Wada.

Wêreldatletiek het egter in ’n verklaring gesê dat die CAS se besluit nie ’n invloed het op die proses wat atletiek se moederliggaam die afgelope vyf jaar met Rusaf deurgaan nie.

“Wêreldatletiek se raad sal by sy volgende vergadering, in Maart 2021, oorweeg of Russiese atlete weer toegelaat kan word om as neutrale atlete aan internasionale byeenkomste deel te neem,” het die liggaam luidens ’n verklaring gesê.

Sou Wêreldatletiek die neutrale status weer instel, sal tot tien Russiese atlete toegelaat kan word om by Wêreldatletiek se reekse soos die Diamantliga-reeks en die Kontinentale Toer, asook die Olimpiese Spele hul slag te wys.

Hierdie besluit sal egter alles afhang van of sy taakspan tevrede is met die vordering wat Rusaf toon.

Die CAS se beslissing beteken egter dat die Russiese vlag, volkslied en kleure nie by die Wêreldkampioenskap, Olimpiese en Paralimpiese Spele teenwoordig mag wees nie.

“Dit is ’n duur prys wat ons moet betaal vir ’n donker tydperk,” het Matytsin gesê.

“Ek is seker die situasie sal ons nader aan mekaar bring en verenig.”

Matytsin sê verder sy fokus is op die toekoms en dat daar geen genade teenoor gebruikers van opkikkers gewys kan word nie.

Meer oor:  Olimpiese Spele  |  Rusaf  |  Cas  |  Wada  |  Wêreldatletiek  |  Rusada  |  Rusland  |  Paralimpiese Spele
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.