Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Rusland uit Tokio Spele, WB-sokker

Dis ’n uitgemaakte saak: Rusland sal nie in 2020 aan die Olimpiese Spele in Tokio en ook nie in 2022 aan die Winterspele in Beijing of Fifa se Sokkerwêreldbeker in Katar mag deelneem nie.

Wada se uitvoerende komitee sal die Russiese agentskap teen die gebruik van verbode middels (Rusada) se toekoms Maandag In Lausanne bespreek. Foto: Getty Images

Die Wêreldagentskap teen die gebruik van verbode middels (Wada) het Maandag die Russe swaar gestraf nadat hulle die omstrede laboratorium in Moskou daarvan beskuldig het dat hy vervalste data aan hom deurgegee het kort nadat Wada in 2018 die skorsing van sy Russiese eweknie, Rusada, opgehef het.

“Die volledige lys van aanbevelings is eenparig aanvaar,” het James Fitzgerald, ’n Wada-woordvoerder, aan die media gesê by die organisasie se uitvoerende komitee se vergadering in Lausanne, Switserland.

Rusada is, soos verwag, weer vir vier jaar geskors omdat hy nie aan die vereistes voldoen het wat aan hom gestel is nadat sy aanvanklike skorsing opgehef is nie.

Russiese atlete sal gevolglik net as neutrale atlete aan die Tokio Spele mag deelneem, mits hulle genoegsame bewys kan lewer dat hulle op geen stadium baat gevind het by die staatsgesteunde program vir opkikkergebruik nie.

“Hulle sal moet bewys dat hulle niks te doen gehad het met die oortredings nie, dat hulle nie betrokke was by enige skemas vir die gebruik van opkikkers soos in die McLaren-verslag uiteengesit is nie, en dat hulle ook nie monsters het wat deur manipulasie geaffekteer is nie,” het Fitzgerald gesê.

Hulle sal moet bewys dat hulle niks te doen gehad het met die oortredings nie, dat hulle nie betrokke was by enige skemas vir die gebruik van opkikkers soos in die McLaren-verslag uiteengesit is nie.
James Fitzgerald

Dit is die jongste in ’n sage wat al vyf jaar duur sedert die skokonthullings ná die 2014 Winterspele in Sotsji, toe dit rugbaar geword het dat Rusland ’n staatsgesteunde opkikkerprogram gebruik het en opkikkertoetse van atlete gemanipuleer het.

In ’n verslag deur die Kanadese regsprofessor Richard McLaren is bevind dat meer as ’n duisend Russiese atlete by dié program gebaat het.

Talle het gevra dat Rusland verbied word om oor die volgende vier jaar aan enige sport deel te neem en ook in dié tydperk geen internasionale sportbyeenkomste mag aanbied nie.

Dieselfde voorwaardes geld as toe Rusland voorheen deur Wada geskors is.

Dus sal die skorsing nie van toepassing wees op Rusland se sokkerspan wat vir die Europese Kampioenskap gekwalifiseer het nie en ook nie op 2021 se Kampioene-liga-eindrondes wat in St. Petersburg aangebied word nie.

Wada redeneer dat dié twee sokkerbyeenkomste “nie multi-kode-sportbyeenkomste of wêreldbyeenkomste is nie, maar eerder streek- en kontinentale enkelsportkode-byeenkomste”.

Hy sal egter nie aan die Wêreldbekertoernooi in Katar mag deelneem sou hy kwalifiseer nie.

Hy sal wel steeds toegelaat word om kwalifiserende wedstryde vir dié toernooi in Rusland onder die Russiese vaandel te speel.

Die Russiese Grand Prix in Sotsji sal soos gewoonlik voortgaan aangesien dit ’n enkele ren in ’n wêreldreeks is.

Wada sal nou 21 dae hê om teen die skorsing te appelleer. Indien hy dit doen, sal die saak in die Internasionale Hof vir Sportarbitrasie (CAS) gehoor word.

Die BBC berig dat Linda Helleland, Wada se vise-president, steeds meen die skorsing “is nie genoeg nie”.

“Ek wou ’n skorsing hê wat nie afgewater is nie,” het sy glo gesê.

“Ons skuld dit aan skoon atlete om die skorsings so sterk as moontlik te implementeer.”

Meer oor:  Olimpiese Spele  |  Atletiek  |  Verbode Middels  |  Wada  |  Opkikkers  |  Rusland
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.