Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Russe boet nou met medaljes vir ou sondes

Twee Russiese medaljewenners op die 2008-Olimpiese Spele in Beijing, is hul medaljes kwyt nadat hul appèlsake in die Internasionale Hof vir Sportarbitrasie (CAS) misluk het.

Maria Abakumova. Foto: Getty Images

Maria Abakumova, wat die silwermedalje in die spiesgooi verower het, en Tatyana Lebedeva, wat silwer gebuit het in die verspring én driesprong, moet albei hul medaljes teruggee. Die Internasionale Olimpiese Komitee (IOK) het dié atlete in 2016 geskors vir die gebruik van verbode middels.

Nóg ’n Rus, die fietsryer Ekaterina Gnidenko, wat in 2012 aan die Olimpiese Spele in Londen deelgeneem het, se skorsing word gehandhaaf.

Al drie het positief getoets vir die gebruik van die verbode middel dehidrochlormetieltestosteroon (turinabol).

“Die CAS-paneel het bevind dat die applikante nie daarin kon slaag om te bewys dat die toetse wat deur die laboratoriums gebruik is om die monster te hertoets, nie wetenskaplik geldig was nie,” het CAS in ’n verklaring gesê.

Lebedeva het in die verspring ’n afstand van 7,03 m behaal, maar sal haar medalje nou amptelik afstaan aan Blessing Okagbare-Ighoteguonor van Nigerië, wat toe derde was met 6,91 m.

Chelsea Hammond van Jamaika behoort nou die bronsmedalje te kry vir haar sprong van 6,79 m.

Tatyana Lebedeva van Rusland is twee Olimpiese silwermedaljes kwyt oor die gebruik van verbode middels. Foto: Getty Images

Lebedeva sal die goue medalje wat sy in 2004 op die Olimpiese Spele in Athene in die verspring gewen het, behou, asook die silwermedalje wat sy in Sydney in 2000 in die driesprong verower het. Sy het in 2013 haar spykerskoene weggepak.

In die driesprong het Lebedeva 15,32 m ver gespring en nadat Hrysopiyi Devetzi van Griekeland, wat toe brons gewen het, ook geskors is, beteken dit dat Olga Rypakova van Kazakhstan tot die silwermedalje bevorder behoort te word vir haar poging van 15,11 m. Yargelis Savigne van Kuba sal straks nou die bronsmedalje sal kry vir haar sprong van 15,05 m.

Met Abakumova se afstand van 70,78 m in die spiesgooi wat nie meer geldig geag word nie, sal Christina Obergföll van Duitsland nou die nuwe silwermedalje-wenner word vir haar poging van 66,13 m.

Rusland is sedert 2015 in die kollig ná gerugte van ’n staatsgesteunde opkikkerprogram.

Meer as 20 Russiese medaljewenners op die Winterspele in Sotsji in 2014 is geskors en moes hul medaljes teruggee terwyl 14 medaljewenners van die Beijing-Spele, asook 14 van die Londen-Spele ook hul medaljes moes terugbesorg.

Meer oor:  Olimpiese Spele  |  Medaljes  |  Cas  |  Opkikkers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.