Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Russe mis sperdatum, wag om lot te hoor

Rusland sal sy asem ophou vir die einde van die maand wanneer Wêreldatletiek se raad in ’n videokonferensie sal vergader en sy lot bespreek.

Dit volg nadat Wêreldatletiek die Russiese Atletiekfedereasie (Rusaf) in Maart met $5 miljoen beboet het vir die vervalsing van die hoogspringer Danil Lysenko se dokumente.

Danil Lysenko, die Russiese hoogspringer. Foto: Getty Images

Lysenko, wat silwer by die Wêreldkampioenskap in 2017 gewen het, is van sy status as ’n neutrale atleet ontneem en voorlopig geskors nadat hy nie aan toetsbeamptes vir opkikkers laat weet het waar hy hom bevind nie.

Die sperdatum om die boete te betaal was 1 Julie, met die moederliggaam wat gedreig het om die neutrale status van alle Russiese atlete wat tans mag deelneem terug te trek.

Wêreldatletiek het verlede week aangekondig dat Rusaf nie dié datum gehoorsaam het nie en dat die totale boete nou $6,31 miljoen is.

Oleg Matitsin, Russiese sportminister, het Maandag gesê hy hoop “gesonde verstand” sal seëvier met betrekking tot Rusaf en nasionale atlete.

Wêreldatletiek se raad sal op 29 en 30 Julie vergader met Rusaf se skorsing en die toekoms van Russiese atlete se deelname aan internasionale byeenkomste op die agenda.

“Ons hoop dat atlete nie die slagoffer in die geval sal wees nie,” het Matitsin luidens die Russiese nuusagentskap Tass gesê.

Rusaf se lidmaatskap is in 2015 opgeskort ná ’n rits oortredings wat die gebruik van opkikkers betref. Sedertdien is Rusland in die duister met sy atlete wat aan geen internasionale atletiekbyeenkoms mag deelneem onder die Russiese vaandel nie. Atlete word net oorweeg indien hulle genoegsame bewys kan lewer dat hulle nooit by enige opkikkers baat gevind het nie.

Rusland moes gevolglik by die 2016 Olimpiese Spele in Rio de Janeiro, asook die 2017 en 2019 Wêreldkampioenskap uitsit.

Die Russe se status is in die tydperk nie minder nie as 12 keer al heroorweeg met Wêreldatletiek wat elke keer met die skorsing volgehou het. Die laaste hiervan was op 23 September verlede jaar, enkele dae voordat die Wêreldkampioenskap in Doha, Katar, se eerste skote geklap het.

Wêreldatletiek het op 22 November aangekondig hy gaan nie die Russe se hertoelating goedkeur nie ná klagte deur Atletiek se Integriteitseenheid (AIU) dat Rusaf sy ondersoek probeer belemmer het.

Dié ondersoek het tot die bedanking van Dmitri Sjliakhtin, wat toe president van Rusaf was, en vier ander ringkoppe gelei. Hulle is almal beboet nadat hulle glo gehelp het met die dokumente wat Lysenko ingedien het nadat hy sy opkikkertoetse misgeloop het.

Die AIU het op 29 Januarie aanbeveel dat vir Wêreldatletiek Rusaf se skorsing verleng indien die Russiese liggaam nie bewysstukke in Lysenko se saak kan indien nie. – Sportredaksie

Meer oor:  Rusaf  |  Wêreldatletiek  |  Opkikkers  |  Rusland
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.