Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Hekkies-ster dop opkikkertoets

Sergey Shubenkov, gesig van Rusland se neutrale atlete, wat steeds toegelaat word om aan atletiek-byeenkomste deel te neem al dien hul land ’n internasionale sportskorsing uit, loop nou self die gevaar om vir vier jaar uit atletiek geskop te word.

Sergey Shubenkov (middel) in 2019 op die Diamantliga-byeenkoms in Rome in aksie. Foto: Getty Images

Dit kom nadat Shubenkov positief vir die gebruik van ’n verbode middel getoets is.

Die Russiese media, waaronder Match TV, berig dat Shubenkov, wat in 2015 as wêreldkampioen in die 110 m-hekkies gekroon is en sedert 2017 onder neutrale status deelneem, glo positief vir furosemied getoets is. Dit is ’n middel wat gebruik word om gewig te beheer, maar ook aangewend word om die gebruik van opkikkers te verbloem.

Dié nuus is ’n groot terugslag vir Russiese sport, wat ná ’n rits opkikker-skandale tot die land se twee jaar lange skorsing uit internasionale sport gelei het en desperaat is om te wys dat sy sportprogramme weer geloofwaardig is.

Dit sal ook ’n gevoelige terugslag wees vir neutrale atlete – ’n handjievol Russiese atlete soos Shubenkov – wat steeds aan Wêreldbyeenkomste kon deelneem nadat hulle genoegsame bewys gelewer het dat hulle nie by opkikkers gebaat het nie.

Dié 30-jarige hekkiesloper het in 2017 op die Wêreldbyeenkoms in Londen silwer gewen as ’n neutrale atleet en dieselfde prestasie in 2019 in Doha herhaal.

Hy kon wel nie aan die Olimpiese Spele in Rio de Janeiro (2016) deelneem nie nadat nuus oor ’n staatgesteunde opkikkerprogram daartoe gelei het dat geen Russiese atlete aan enige sport op dié skouspel hul slag kon wys nie.

Hy is wyd beskou as die gesig van neutrale atlete danksy sy goeie prestasies en skoon verlede.

Die Russiese webblad News.ru berig dat Rusland dié saak so belangrik ag dat Oleg Matjtsin, die land se sportminister, na Shubenkov se oefenbasis in Siberië gereis het om persoonlik agter die kap van die byl te kom.

In 2019 is neutrale status aan 128 Russiese atlete toegeken, met meer as 60 aansoeke wat van die hand gewys is en een goedgekeurde aansoek wat later teruggetrek is. – Sportredaksie, insidethegames.bizz

Meer oor:  Atletiek  |  Opkikkers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.