Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
SA aflos-blitse sonder Wayde na Pole

Suid-Afrika se atletiek-mans wil vanjaar geskiedenis maak deur ’n plek op die podium in die 4x100 m-aflos in die Olimpiese Spele in Tokio te kry, maar voor dan moet hulle eers stem dik maak by die Wêreld-aflosbyeenkoms in Pole.

Akani Simbine sal die pylvak-skof hardloop vir die mans se 4x100 m-span in die Wêreld-aflosbyeenkoms in Pole. Foto: Getty Images

Suid-Afrika stuur drie spanne, wat op 1 en 2 Mei in Chorzów sake teen die wêreld se bestes sal uitspook.

Suid-Afrikaanse spanne in die mans se 4x100 en 4x400 is ingeskryf, sowel as ’n gemengde aflosspan in die 4x400.

Geen vrouespanne kon kwalifiseer nie.

Dit sal die ideale voorsmaak wees vir Paul Gorries, afrigter van die land se onderskeie nasionale aflosspanne, oor wat hy in Tokio te wagte kan wees en watter aspekte van hul tegniek en uitvoering nog werk nodig het.

“Ons het ’n oefenkamp van Sondag tot Woensdag, wanneer ons oorsee vertrek,” het Gorries by navraag gesê.

Luxolo Adams, Thando Dlodlo, Emile Erasmus, Gift Leotlela, Clarence Munyai en Akani Simbine is die ses name in die 4x100-groep, maar ’n finale besluit moet nog oor Adams se deelname geneem word.

“Luxolo is in die stadium nog beseer, met ’n 50/50-kans om betyds te herstel. Die feit dat Wayde van Niekerk nou na Amerika gaan, help ons ook nie veel nie.”

Gorries het ook gesê dat die byeenkoms in Pole nie noodwendig ’n aanduiding is van wie wel in Tokio gaan aantree nie, maar hom eerder ’n idee sal gee oor die opsies tot sy beskikking.

Amerika het hom reeds aan die byeenkoms onttrek weens kommer oor die koronavirus, terwyl Jamaika na verwagting dieselfde gaan doen.

Hoewel dit beslis die deur vir Suid-Afrika oopmaak om die podium te bestyg, reken Gorries die twee naelloop-moondhede se afwesigheid is nie noodwendig ’n goeie ding nie.

“Ons groter prentjie is Tokio. Dit is goed om teen spanne soos Amerika en Jamaika deel te neem, want dan kan jy jouself opweeg teen die bestes.

“Ons is nou nie vreeslik opgewonde dat hulle nie daar gaan wees nie en medaljes is nie die fokuspunt nie. Natuurlik sal dit lekker wees om te wen, maar dit is eerder ’n goeie geleentheid om te kyk waaraan nog geskaaf moet word.”

Hy sê die hoofdoelwit is vir die mans se 4x400-span om ook vir Tokio te kwalifiseer nadat die 4x100-span dit reeds vermag het.

“Soos ek gesê het, die spanne is nog nie finaal nie. As Wayde later beskikbaar sou wees, kan hy selfs in die 4x100 oorweeg word in Tokio. Ons wil nou sien hoe dinge verloop met die huidige span. Die kern van die groep is nou al ’n geruime tyd saam.”

Van Niekerk was aanvanklik in die 4x400-groep ingesluit, saam met Ranti Dikgale, Berend Koekemoer, Oscar Mavundla, Zakhiti Nene en Lythe Pillay, maar die 400 m-wêreldrekordhouer se bestuurspan het intussen bevestig dat dié byeenkoms nie in dié stadium deel van sy planne is nie.

Van Niekerk hoop om dié week sy visum te kry om by sy nuwe oefengroep in Florida aan te sluit.

“Ons het nog geen aflosplanne bevestig nie. Hy (Van Niekerk) moet eers by sy afrigter kom voordat daar op enige verdere kompetisies besluit sal word,” sê Bronwyn Roets van In-Site Management.

Taylon Bieldt, Dikgale, Ukona Khuzwayo, Dalene Mpiti en Marlie Viljoen is ingesluit in die groep vir die 4x400 se gemengde aflos.

• Suid-Afrika kon nog nooit ’n medalje in die 4x100-aflos op ’n Olimpiese Spele wen nie.

Meer oor:  Aflos  |  Atletiek  |  Paul Gorries  |  Pole  |  Tokio-Spele  |  Wêreld-Aflosbyeenkoms  |  4X100 M-Aflos
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.