Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Atlete al weer op lughawe gestrand

Nóg ’n atletiekbyeenkoms – nóg ’n klomp Suid-Afrikaanse atlete wat sonder verblyf op ’n lughawe gestrand is.

’n Groep atlete wat Afrika die afgelope naweek by die Kontinentale Beker-byeenkoms in Ostrava in die Tsjeggiese Republiek verteenwoordig het, moes Maandagaand op die stoele van ’n restaurant by die Václav Havel-lughawe in Praag probeer slaap, nadat geen verblyf vir hulle gereël is nie.

Simon Makagwe, ’n voormalige Afrika-kampioen in die 100 m, probeer Maandagaand slaap op ’n bankie by die KFC van Praag se Václav Havel-lughawe. Foto: Facebook

Die nege atlete – wat onder andere die naellopers Simon Magakwe, Emile Erasmus en Henricho Bruintjies, die diskusgooier Victor Hogan en die hamergooier Tshepang Makhethe insluit – het Maandag per bus van Ostrava na Praag gereis, sonder enige duidelikheid oor wanneer hulle sou huis toe vlieg, maar onder die indruk dat daar vir hulle verblyf by ’n lughawehotel gereël is.

By dié hotel moes hulle egter hoor dat daar geen kamers vir hulle is nie, wat hulle genoop het om na die lughawe terug te keer.

Nadat hulle ure lank by die KFC gewag het, waar iemand vir hulle kos gekoop en hulle op bankies geslaap het, kon hulle teen 01:00 Dinsdagoggend hul intrek by ’n hotel neem. Dis onduidelik wie vir hulle daar verblyf gereël het.

Hezekiel Sepeng, Atletiek Suid-Afrika (ASA) se atletiek-koördineerder, het Dinsdagoggend aan Netwerk24 gesê daar was steeds nege Suid-Afrikaanse atlete in Praag. Hulle het Dinsdagmiddag net voor 17:00 op die vlug huis toe geklim en sal Woensdagoggend terug in die land wees.

Altesame 20 Suid-Afrikaners het in Ostrava deelgeneem. Die ander 11 het reeds Maandag gevlieg.

Atlete wag in die ontvangsarea van die hotel in Praag waar hulle gedink het vir hulle verblyf gereël is. Hulle is later gevra om die hotel te verlaat omdat daar nie vir hulle kamers bespreek was nie. Foto: Facebook

Sepeng sê die reis- en verblyfreëlings was die verantwoordelikheid van die CAA, Afrika-atletiek se moederliggaam, en dat hy die atlete daarom nie Maandagaand kon help nie.

“Ons is nie daar nie en CAA moes alles reël, so ek het vir hulle gesê om hul spanbestuurder op te spoor,” sê hy.

Sepeng het wel nuwe vlugreëlings vir ’n handvol atlete gereël toe hul probleme verlede week in Suid-Afrika begin het.

Atlete moes verlede Woensdag by die lughawens in Johannesburg én Kaapstad hoor dat hul vlugkaartjies ongeldig was en toe skarrel om nuwe reëlings te tref.

Sepeng het nuwe kaartjies bespreek, maar weens die oponthoud het die atlete steeds eers Vrydagaand in Ostrava aangekom, ná twee vlugte en ’n vier uur lange busrit vanaf Praag.

Die byeenkoms het Saterdag en Sondag plaasgevind, sodat die geraakte Suid-Afrikaners nie veel tyd gehad het om voor te berei nie.

Uiteindelik het net drie Suid-Afrikaners – Caster Semenya, Ruswahl Samaai en Akani Simbine – podiumplekke behaal. Semenya het die 800 m gewen en in die 400 ’n nuwe Suid-Afrikaanse rekord opgestel, Samaai het koning gekraai in die verspring en Simbine was derde in die 100.

Nie een van die drie het probleme met hul vlugte gehad nie.

Suid-Afrikaanse atlete in die KFC van Praag se internasionale lughawe. Foto: Facebook

Sepeng sê hy het verlede week inderhaas nuwe kaartjies gereël, want “aan die einde van die dag gaan dit oor die atlete”. Hy het bygevoeg dat ASA binnekort met CAA sal vergader oor hoe die Afrika-liggaam ASA sal terugbetaal vir daardie vlugte.

Dit is die tweede keer in minder as ses weke dat Suid-Afrikaanse atlete op ’n lughawe gestrand is – en die tweede keer dat CAA betrokke is.

Aan die einde van Julie was 100de Afrika-atlete, wat die wêreldkampioene Semenya en Luvo Manyonga ingesluit het, in Nigerië gestrand. Die atlete se aansluitingsvlugte van die hoofstad Lagos na Asaba, waar hulle aan die Afrika-kampioenskap moes deelneem, is nooit gefinaliseer nie.

Dié vlugte was ook die verantwoordelikheid van CAA.

Die Afrika-kampioenskap het weens dié deurmekaarspul laat begin.

Meer oor:  Atletiek  |  Ostrava  |  Atletiek Suid-Afrika
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.