Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
SA atlete hoef nie weer oor klere te bloos

Atlete en ondersteuners hoef hul nie te bekommer dat Suid-Afrika se span vir vanjaar se Olimpiese Spele weer met ongemaklike oorgrootte sweetpakke uitgerus gaan word nie.

Luke Davids in die nuwe Puma-drag wat Suid-Afrikaanse atlete sal dra wanneer hulle die land by internasionale byeenkomste verteenwoordig.

Trouens, Atletiek Suid-Afrika (ASA) het ’n groot hupstoot gekry in die aanloop tot die Spele in Tokio, met die plaaslike beheerliggaam wat die dienste van Puma bekom het as ’n borg. Alle atlete wat die land op internasionale byeenkomste verteenwoordig, sal vanaf April in dié klerevervaardiger se drag deelneem.

Vir atlete en ondersteuners behoort die Puma-drag aansienlik beter te lyk as die uitrustings waarmee 361 Degrees, ’n Chinese maatskappy, die Olimpiese span na die 2016 Spele in Rio de Janeiro gestuur het.

Toe het die Suid-Afrikaanse span opskrifte gehaal vir hoe ongemaklik en vreemd hul sweetpakke gelyk het. Dit was hopeloos te los en groot en hulle het soos “ninja turtles” by die openingseremonie gelyk.

Puma is geen vreemde gesig in atletiekkringe nie met Jamaika se atlete, waaronder Usain Bolt jare lank getel het, wat al sedert 2002 met hul handelsmerk op hul kleredrag deelneem.

Hulle klee ook die spanne van Noorweë, Switserland, Portugal, Kuba, die Bahamas, Trinidad en Tobago, Grenada en die Dominikaanse Republiek. Vooraanstaande atlete soos Karsten Warholm (400 m-hekkies), Armand Duplantis (paalspring) en Andre de Grasse (naellope) word ook persoonlik deur Puma geborg.

Suid-Afrika se Olimpiese span in hul onvleiende “ninja turtles”-sweetpakke by die openingseremonie in Rio de Janeiro in 2016. Foto: Getty Images

“Atletiek is nog altyd deel van Puma se erfenis. Ons is trots daarop om met ASA te kan saamwerk, een van die wêreld se voorste spanne te klee en help om atlete te ontwikkel vir môre se sukses,” het Pascal Rolling, hoof van sportbemarking vir Puma, in ’n verklaring gesê.

Aleck Skhosana, president van ASA, hoop dat Puma nog lank deel van die Suid-Afrikaanse atletiekfamilie sal bly.

“Dit is ’n plesier vir ASA om saam met een van die bekendste handelsname in die wêreld te werk,” het Skhosana gesê.

“Ons sien uit na ’n hartlike langtermynverhouding.”

Suid-Afrikaners wat reeds deur Puma geborg word, sluit in Rikenette Steenkamp, Wenda Nel, Gena Löfstrand, Henricho Bruintjies, Thando Roto en Luke Davids.

Puma is ook al sedert 2016 betrokke in Suid-Afrikaanse atletiek met die School of Speed-reeks, wat deur hom aangebied word.

Die eerste byeenkoms waar die Suid-Afrikaanse span in Puma-drag sal deelneem, is die Afrika-landloopkampioenskap vroeg in April.

– Sportredaksie

Meer oor:  Olimpiese Spele  |  Atletiek  |  Puma  |  Asa  |  Tokio  |  Saskok
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.