Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
SA atlete ryg die medaljes oorsee in

Die Soweto-spoedvraat Phatutshedzo (Shaun) Maswanganyi het met reg tans atletiekgeesdriftiges aan die gons.

Dié 20-jarige sensasie, wat aan die Universiteit van Houston studeer, het die afgelope naweek silwer gewen in die 100 m en brons in die 200 m by die Amerikaanse National Collegiate Athletic Association (NCCA) se buitemuurse kampioenskap, wat by die Hayward Field in Eugene, Oregon, gehou is.

Die Suid-Afrikaner Phatutshedzo Maswanganyi (middel) steek die eindstreep eerste oor in die uitdunne van die 100 m by die Amerikaanse National Collegiate Athletic Association (NCCA) se buitemuurse kampioenskap. Foto: Getty Images

Hy het die wenstreep in onderskeidelik 10.09 en 20.10 oorgesteek, waarvan sy tyd in die 200 m die derde keer vanjaar is wat hy die vereistes vir die Tokio-Spele oortref het en hom boonop in die negende plek op Wêreldatletiek se wêreldranglys plaas.

Maswanganyi het in Mei reeds ook in die 100 m ’n tyd van 10.04 afgeblits om vir die skouspel in die Japanse hoofstad te kwalifiseer.

Dít nadat hy vroeër die jaar al nie-amptelike tye van 9.87 (met ’n +3.8 m/s-wind van agter) in die 100 en 19.93 (wind +3.3 m/s) in die 200 aangeteken het.

• Clarence Munyai was die groot uitblinker onder die rits Suid-Afrikaners wat aan Wêreldatletiek se Kontinentale Reeks se Brons-byeenkoms in Genève deelgeneem het.

Die Suid-Afrikaanse rekordhouer in die 200 het silwer verower in ’n tyd van 20.49 sekondes, sy vinnigste in 2021.

Die Fransman Mouhamadou Fall het met die louere weggestap in 20.37, wat ook sy beste tyd dié seisoen is.

Taylon Bieldt, ’n tweemalige Suid-Afrikaanse kampioen in die 100-hekkies, was agtste in die 400-hekkies. Haar tyd was 56.55 sek.

Die wenner, Viktoriya Tkachuk van die Oekraïne, het ’n nuwe persoonlike beste tyd opgestel (54.60). Dit besorg tans aan haar die sewende plek op die wêreldranglys.

In die 110-hekkies was Tiaan Kleynhans se tyd van 13.93 slegs goed genoeg vir ’n negende plek, met Aurel Manga van Frankryk wat baas was in 13.46.

Die SA middelafstandatleet Gena Löfstrand het haar slag in die 800 gewys, waar sy ’n 18de was in ’n beskeie tyd van 2:07.38, meer as sewe sekondes agter die wenner, Deborah Rodríguez van Uruguay, wat die wenstreep in 2:00.20 oorgesteek het.

• Die langasem Wayne Snyman het in Litoue beïndruk met sy bronsmedalje in die 20 km-padwedloop.

Snyman, wat reeds sy plek in die span vir die Olimpiese Spele beklink het, het aan die 47ste Internasionale Padwedloop-fees in Alytus deelgeneem.

Sy tyd was 1 uur, 23 minute en 54 sekondes, met die Duitser Hagen Pohle (1:22:19) en die Rus Vasiliy Mizinov (1:23:36), wat as ’n neutrale atleet deelgeneem het, wat voor hom geëindig het.

Mizinov was die silwermedaljewenner by 2019 se Wêreldkampioenskap in Doha.

Snyman het in Maart Wêreldatletiek se vereistes van 1:21:00 vir die Olimpiese Spele met ’n enkele sekonde oortref.

• In Potchefstroom het die spiesgooier Sunette Viljoen vir die eerste keer in sewe weke aangetree.

Viljoen, die silwermedaljewenner by die Olimpiese Spele in Rio de Janeiro, benodig ’n afstand van 64,00 m om vir Tokio te kwalifiseer, maar kon dit nog nie behaal nie.

Sy was die enigste deelnemer en het die maatband tot 57,66 m laat rek.

Met Wêreldatletiek se venster om te kwalifiseer vir Tokio wat op 29 Junie sluit, is die uurglas vinnig besig om uit te loop vir dié kanniedood 37-jarige.

Meer oor:  Atletiek  |  Sunette Viljoen  |  Clarence Munyai
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.