Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
SA se atlete spring voor in die wêreld

Daar is nou geen meer twyfel dat Suid-Afrika die toonaangewers in verspring op die wêreldverhoog is nie.

Ruswahl Samaai het die goue medalje in die verspring by die Kontinentale-beker in Ostrava verower. Foto: Getty Images

Nie net is Luvo Manyonga die wêreld-, Statebond- en Diamantliga-kampioen nie, maar sy landgenoot, Ruswahl Samaai, Afrika-kampioen, is Saterdag ook as die Kontinentale-kampioen gekroon op die eerste dag van die Internasionale Vereniging van Atletiekfederasies (IAAF) se Kontinentale-bekerbyeenkoms wat in Ostrava in die Tsjeggiese Republiek gehou word.

Hoewel die Kubaan Juan Miguel Echevarría dalk die voorste afstand in die wêreld in 2018 gespring het, spog die reënboognasie met die silwerware.

Samaai, wat in die afwesigheid van Manyonga Afrika se hoop was, het gewys dat daar ook ’n koelkop in hom steek toe hy gewen het met ’n afstand van 8.10 m, nadat hy deurgedring het met ’n beste van 8.16 m in die halfeindronde.

Miltiádis Tentóglou van Griekeland was tweede met 8.00 m, terwyl Jeff Henderson, Olimpiese kampioen van die VSA, derde was met 7.98 m.

Dit was nog ’n dag en nog ’n rekord op kantoor vir Caster Semenya.

Die Olimpiese, wêreld-, Afrika- en Statebondkampioen in die 800 m het die Suid-Afrikaanse rekord in die 400 m wéér laat tuimel toe sy silwer gewen het in 49.62 sekondes.

Sy het verlede maand die rekord tot 49.96 verbeter tydens die Afrika-kampioenskappe in Asaba in Nigerië en het ’n verstommende 0.34 sek van haar vorige beste afgesny.

Salwa Eid Naser van Bahrein het gewen in 49.32 sek.

As die stophorlosie op enigiets dui, is dit dat die meeste van die Suid-Afrikaanse atlete se bene lankal tam is.

Met die uitsondering van Semenya en die verspringers Manyonga en Samaai, het die plaaslike atlete lankal nie meer veel in die tenk oor nie.

Ncincilili Titi, wat met ’n beste tyd van 20.00 sekondes in die 200 spog, het sesde geëindig in 20.78. Alonso Edward van Panama het gewen in 20.19.

Cornel Fredericks, voormalige Statebondkampioen in die 400 m-hekkies, was sewende in 50.54 sek.

Die sensasionele Abderrahman Samba van Katar het gemaklik gewen in 47.37, die derde vinnigste tyd van die jaar en ook ’n baanrekord.

Victor Hogan het uitgemis op ’n plek op die podium in die diskus waar hy vierde was met ’n beste afstand van 63.49 m. Fedrick Dacres van Jamaika se poging van 67.97 was goed genoeg vir die eerste plek.

Zinzi Chabangu kon net een suksesvolle poging behaal in die driesprong waar sy met 12.89 m goed genoeg was vir die vierde plek. Caterine Ibargüen van Colombia was eerste met 14.76 m.

Chris Moleya het net een suksesvolle poging in die hoogspring gehad toe hy oor die dwarslat geseil het op 2.15 m. Donald Thomas van die Bahamas het gewen met ’n hoogte van 2.32 m.

Ischke Senekal kon ook nie veel van ’n indruk in die diskus maak nie. Sy was agtste met 50.21 m, met Yaimé Perez van Kuba wat gewen het met 65.30 m.

Die mans 4x100-aflosspan van Akani Simbine, Henricho Bruintjies, Emile Erasmus en Simon Magakwe het ook teleurgestel toe die beseringspook Bruintjies getref het voordat hy vir Magakwe kon oorhandig.

Die Amerikas se span van Michael Rodgers, Noah Lyles, Yohan Blake en Tyquendo Tracey het gewen in 38.05.

Afrika lê tans in die laaste plek op die puntelys met 74 punte. Die Amerikas is eerste met 127.

Meer oor:  Atletiek  |  Iaaf  |  Luvo Manyonga  |  Ruswahl Samaai
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.