Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Suid-Afrikaanse atlete vuurwarm oorsee
Elroy Gelant
Caster Semenya. Foto: Getty Images

Suid-Afrika se atlete kook in hierdie Olimpiese jaar.

Elroy Gelant het Sondagaand op die Fanny Blankers-Koen-byeenkoms in Hengelo, Nederland ’n nuwe Suid-Afrikaanse rekord van 13:04.88 in die 5 000 m vir mans opgestel.

En by die Diamantliga-byeenkoms in Rabat, Marokko het Caster Semenya die 800 vir vroue in ’n puik tyd van 1:56.64 gewen.

Maar dis nie al nie.

Rushwal Samaai, die SA kampioen, het by dieselfde byeenkoms in die verspring met die louere weggestap danksy ’n groot sprong van 8.38. Dit ewenaar sy beste afstand.

Gelant het sy goeie vriend Stephen Mokoka se vorige SA rekord van 13:11.44 verpletter en vierde geëindig. Sy nuwe SA rekord is sowat elf sekondes vinniger as sy vorige beste tyd van 13:15.87.

“Elroy het in die oefeninge al gewys hy is in staat tot ’n tyd van vinniger as 13 minute. Hopelik kry hy dit vanaar nog reg,” het Jean Verster, sy afrigter in Potchefstroom, kort ná die wedloop gesê.

Verster is ook die afrigter van Semenya, ’n voormalige Olimpiese silwermedaljewenner, wat ondanks warm, bedompige en winderige toestande haar beste tyd in baie jare gehardloop het.

Dit is boonop die vinnigste tyd vanjaar in die wêreld.

Semenya het in 2009 haar beste tyd van 1:55.45 gehardloop.

Sy het Sondagaand gewys sy moet een van die gunstelinge wees om in Augustus by die Olimpiese Spele in Rio de Janeiro, Brasilië, die goue medalje te wen.

By dieselfde byeenkoms, die eerste Diamantliga-byeenkoms nóg in Afrika, het die Kapenaar Antonio Alkana die beste tyd van sy loopbaan (13.28; wind: 1.3m/s) in die 110-hekkies aangeteken en derde geëindig.

Sy vorige beste was 13.32.

In die 400-hekkies vir vroue was Wenda Nel derde in 54.88, nadat sy nog tweede was toe die atlete die pylvak binnegekom het.

“Ek dink ek het teen die wind in te vinnig begin,” het Nel ná die wedloop laat weet.

In Hengelo was Dumisane Hlaselo in die 3 000 vir mans agtste in 3:37.73, terwyl die Kovsie Rynardt van Rensburg vierde was in die 800 vir mans in 1:47.03.

Die 26-jarige Victor Hogan, die SA diskusgooi-kampioen, was vierde met ’n gooi van 63.70.

Alyssa Conley, die SA kampioen in die 100 en 200 vir vroue, was in die 200 vierde in 23.17.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.