Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Akani wil ‘vinnigste op planeet’ wees
Akani Simbine was in Julie op die Diamantliga-byeenkoms in Londen die wenner in die 100 m.Foto: Getty Images

Die Suid-Afrikaanse naelloper Akani Simbine het een doel voor oë vir volgende maand se Wêreldkampioenskappe: Hy wil die vinnigste atleet op die planeet wees.

Dié doelwit klink dalk ietwat vergesog, maar die 25-jarige Statebond-kampioen in die 100 m is vas oortuig hy kan hom in Katar op die boonste trap van die podium bevind.

Die Internasionale Vereniging van Atletiekfederasies (IAAF) se skouspel begin op 28 September in Doha.

Simbine, wat ná skool moes kies tussen atletiek en sokker, is nie om dowe neute vol selfvertroue nie.

Benewens sy Statebond-sukses in die Goudkus verlede jaar, tel hy sedert 2016 deurlopend onder die voorste tien atlete in sy voorkeurnommer.

Benewens sy Statebond-sukses in die Goudkus verlede jaar, tel hy sedert 2016 deurlopend onder die voorste tien atlete in sy voorkeurnommer.

Hy het in 2015 sy deurbraak op die senior verhoog gemaak toe hy net die tweede Suid-Afrikaner naas Simon Magakwe geword het wat die 100 m in onder 10 sekondes kafgedraf het. Hy het die wenstreep in ’n tyd van 9.97 oorgesteek, wat aan hom die 20ste plek op die wêreldranglys besorg het.

’n Jaar later het hy Magakwe se Suid-Afrikaanse rekord tot 9.89 verbeter. Dít was goed genoeg vir die vyfde plek op die wêreldranglys. Hy het in dieselfde jaar op die Olimpiese Spele in Rio de Janeiro ook vyfde in die eindronde geëindig, terwyl die legendariese Usain Bolt goud verower het.

In 2017 (9.92) was hy vierde op die ranglys en hy beklee tans die vyfde plek (9.93).

Net die Amerikaners Christian Coleman (9.81), Noah Lyles (9.86) en Justin Gatlin (9.87), asook Nigerië se Divine Oduduru (9.86), was vanjaar al vinniger oor die kort afstand.

“Ek glo ek kan die beste wees en kan nie net sê: ‘Ag wat, Christian hardloop vinnig, Noah hardloop vinnig, Gatlin hardloop vinnig, en ek kan hulle nie klop nie.’ Dan neem ek om die verkeerde redes aan atletiek deel,” sê Simbine.

Hy het egter ’n groot taak wat op hom wag indien hy sy droom wil verwesenlik, want hy sal waarskynlik sy SA rekord moet oortref as hy die goue medalje om sy nek wil hang.

“So vir my gaan dit daaroor om te glo in wat ek en my afrigter (Werner Prinsloo) doen en dat ons iets wil vermag wat Suid-Afrika nog nie gesien het nie. Daar was nog nie ’n Suid-Afrikaner op die podium in die 100 m (in die Wêreldkampioenskappe) nie. So dis vir ons ’n baie opwindende ding.

Caster Semenya breek die lint in die 800 m op die Prefontaine Classic-byeenkoms in Kalifornië.Foto: Getty Images

“Ek weet wat die Amerikaners kan doen. Ek weet dat dit ’n goeie wedloop sal wees as hulle op hul beste en ek op my beste is.”

Simbine meen ook die Caster Semenya-sage het voor die byeenkoms in Doha ’n bitter smaak in die mond gelaat.

“Daar is ietwat van ’n oorspoel-effek op die Suid-Afrikaanse sportwêreld, nie net atletiek nie. Caster was die koningin van Suid-Afrikaanse sport en nou kan ons haar nie meer sien nie,” sê hy.

“Maar as atlete en mense wat lief is vir sport, ondersteun ons haar soveel as wat ons kan, want op die ou einde is sy een van ons. Ook omdat ons vir die wêreld wil wys dat ons as een saamstaan en dat sy nie alleen hoef te veg nie.”

“Dis hartverskeurend, ontstellend en nie lekker nie om te sien dat ’n vriend deur so iets gaan.”

Semenya is tans in die Switserse federale hooggeregshof in ’n stryd met die IAAF gewikkel. Sy poog om die beslissing deur die internasionale hof vir sportarbitrasie (CAS), wat in Switserland gesetel is, omgekeer te kry. Ingevolge daarvan mag vroue-atlete met natuurlike hoë testosteroonvlakke nie aan die nommers tussen die 400 m en myl mag deelneem nie.

Die regulasies is deur atletiek se moederliggaam ingestel en weerhou die Olimpiese en wêreldkampioen in die 800 m daarvan om haar titels te verdedig.– Reuters en Wim Pretorius

Meer oor:  Akani Simbine  |  Caster Semen­Ya  |  Wereldbyeenkoms  |  Atletiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.