Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
SA jong atlete skitter in Ivoorkus

Suid-Afrika se o.18-atletiekspan is die beste op die vasteland nadat hy maalvleis van hul teenstanders by die Afrika Jeugkampioenskappe gemaak het wat verlede week in die Ivoorkus gehou is.

Die seuns en meisies het albei boaan die medaljeleer geëindig met ’n gesamentlike totaal van 32 medaljes om te bevestig dat Suid-Afrika se skoleatletiek sonder twyfel op die wêreldverhoog kan meeding.

Sinesipho Dambile beklee die voorste plek op die IAAF se wêreldranglys in die 200 m vir o.18’s. Foto: Gallo Images

Die seuns het die byeenkoms met 18 medaljes (agt goud, vyf silwer en vyf brons) afgesluit, terwyl die meisies 14 medaljes (10 goud, twee silwer en twee brons) verower het.

Kenia was tweede met ’n gesamentlike totaal van 17 medaljes, terwyl Nigerië in die derde plek klaargemaak het met 16 medaljes en Ethiopië vierde met 11.

Sinesipho Dambile en Eckhart Potgieter het onderskeidelik eerste en tweede in die 200 m klaargemaak.

Dambile was in ’n klas van sy eie in 20.52 sek. met Potgieter wat 21.29 sek. op die stophorlosie gesit het.

Potgieter het ook silwer in die 100 m in 10.64 gewen.

Nóg ’n Suid-Afrikaner, Thabang Hlohlolo, het die 100 m in 10.61 gewen.

Luciano Custodio het etlike meters tussen hom en sy naaste teenstander in die eindronde van die 400 m-hekkies gehad waar hy goud gewen het in 52.52 sek.

Sy naaste teenstander was Ndikponke Okure van Nigerië wat silwer gevat het in 53.39.

Die belowende 800 m-atleet Prudence Sekgodiso het hard gewerk om die aandag van haar Keniaanse teenstander Sheila Kepkosgei af te weer deur in 2 minute, 7.03 sekondes te wen. Dit was wel heelwat buite haar beste tyd van 2:03.98, wat ook die voorste tyd in haar ouderdomsgroep in die wêreld is.

Kepkosgei was tweede in 2:07.45.

Phethisang Makhethe het die hamergooi met ’n uitstekende afstand van 63,51 m gewen. Amel Farouk van Egipte het die silwermedalje gewen met ’n afstand van 56,23 m.

Die hekkieslopers Reinhardt Strauss en Kayla van der Bergh het albei ook met seges gespog.

Strauss het in die 110 m-hekkies naelskraaps vir Leonard Bangue van Kameroen in 13.92 sek geklop, terwyl Van der Bergh uitgeblink het in die 100 m-hekkies met goud in 13.50 sek.

Dané Roets het twee titels gewen nadat sy op die boonste trap van die podium gestaan het in die gewigstoot (17,33 m) en die diskusgooi (46,35 m).

Nolwazi Mashaba het in Roets se spore gevolg en in die driesprong (12,65 m) en die verspring (5,82 m) die pyp gerook.

Lythe Pillay, wat in 2018 die Suid-Afrikaanse rekord vir o.15’s in die 200 m verbeter het, het sy slag in die 400 gewys waar hy hakskene vir sy o.18 teenstanders gewys het en in 46.12 sek. gewen het.

Jason Tito het die verspring (7,40 m) gewen en brons verower in die driesprong (14,57 m).

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.