Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Suid-Afrika kies 31 atlete vir Katar

Suid-Afrika sal net soos in 2017 weer met ’n Gideonsbende opruk na die Internasionale Vereniging vir Atletiekfederasies (IAAF) se Wêreldkampioenskap.

Atletiek Suid-Afrika (ASA) het Dinsdagmiddag ’n groep van 31 atlete aangewys wat die land se aanslag op die wêreldverhoog in Doha, Katar gaan lei.

Luvo Manyonga (RSA) taking part in the long jump d
Luvo Manyonga. Foto: Getty Images

Luvo Manyonga sal terugkeer in ’n poging om sy titel in die verspring te verdedig.

Hy sal die enigste van Suid-Afrika se drie wêreldkampioene wees wat sy slag weer sal wys. Dit volg nadat Wayde van Niekerk (400 m) hom nie beskikbaar gestel het nie, terwyl hy weer sy beste peil probeer herwin. Die IAAF se nuwe regulasies verhoed vir Caster Semenya (800 m) om weer deel te neem.

Ruswahl Samaai, wat in 2018 as die Afrika-kampioen in die verspring gekroon is, sal saam met Manyonga en Zarck Visser by die verspringput aantree.

Akani Simbine, wat in 2017 in Londen vyfde geëindig het, sal weer sy slag in die 100 m wys.

Simon Magakwe en Thando Dlodlo sal ook aan dié nommer deelneem.

In die 200 m sal die 2015 bronsmedaljewenner in Beijing, Anaso Jobodwana, en die nasionale rekordhouer, Clarence Munyai, albei aantree.

Suid-Afrika het boonop aflosspanne in die 4x100 m sowel as die 4x400 m vir mans ingeskryf.

Net vyf vroue is in die span ingesluit, waarvan net Tebogo Mamathu (100 m), Dominique Scott (5 000 m en 10 000 m) en Zenéy van der Walt (400 m-hekkies) die IAAF se kwalifiserende vereistes kon behaal.

Die o.20-wêreldkampioen in die 400 m-hekkies, Van der Walt, sal haar buiging by die senior byeenkoms maak met die bronsmedaljewenner by die 2018 Statebondspele, Wenda Nel, wat nie in die span is.

Rikenette Steenkamp is op pad na die IAAF se Wêreldkampioenskap in Doha toe nadat sy ’n uitnodiging van atletiek se moederliggaam ontvang het om aan die 100 m-hekkies deel te neem. Foto: Getty Images

Die IAAF het ook uitnodigings aan Rikenette Steenkamp (100 m-hekkies) en Sunette Viljoen (spiesgooi) gestuur, wat net-net nie die kwalifiserende vereistes behaal het nie.

Vir Steenkamp sal dié uitnodiging veral verligting bring met die Suid-Afrikaanse rekordhouer wat tans besig is om weer haar beste peil te herwin nadat sy vir lank op die kantlyn was met ’n besering.

“Ons het die beste moontlike span gekies en aan hulle dieselfde mandaat gestel as twee jaar gelede: om medaljes huis toe te bring,” het Aleck Skhosana, ASA-president, in ’n verklaring gesê.

“Die laaste span het die uitdaging aanvaar en ses podiumplekke behaal en drie goue medaljes, een silwer en twee brons verower.”

Suid-Afrika het in 2017 in Londen in die derde plek op die medalje-puntestand geëindig met die VSA wat eerste was met 30 medaljes (tien goud, 11 silwer en nege brons) en Kenia tweede met 11 (vyf goud, twee silwer en vier brons).

Die span sal op 24 September vanaf die O.R. Tambo-lughawe na Doha vertrek en op 8 Oktober terugkeer.

SA span:

Mans: Akani Simbine (100, 4x100), Thando Dlodlo (100, 4x100), Simon Mogakwe (100, 4x100), Clarence Munyai (200, 4x100), Anaso Jobodwana (200, 4x100), Derrick Mokaleng (400, 4x400), Thapelo Phora (400, 4x400), Tshepo Tshite (800), Rantso Mokopane (3 000 m-hindernis), Stephen Mokoka, Desmond Mokgobu, Thabiso Moeng, David Manja (almal marathon), Antonio Alkana (110-hekkies, 4x100), Ruan de Vries (110 m-hekkies), Chederick van Wyk (4x100), Gardeo Isaacs, Ashley Hlungwani, Ranti Dikgale (almal 4x400), Lindsey Hanekom (400-hekkies, 4x400), Wayne Snyman (20 km-stap), Marc Mundell (50 km-stap), Zarck Visser, Luvo Manyonga, Ruswahl Samaai (almal verspring), Orazio Cremona (gewigstoot).

Vroue: Tebogo Mamatu (100), Dominique Scott (5 000, 10 000), Rikenette Steenkamp (100-hekkies), Zenéy van der Walt (400-hekkies), Sunette Viljoen (spiesgooi).

Meer oor:  Katar  |  Atletiek  |  Doha  |  Iaaf  |  Wêreldkampioenskap  |  Asa  |  Atletiek Suid-Afrika
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.