Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
SA kies gedugte atletiekspan vir WB

Atletiek Suid-Afrika (ASA) het ’n sterk groep van 39 atlete gekies wat die land aanstaande maand by die splinternuwe Wêreldbeker-byeenkoms in Londen sal verteenwoordig.

Akani Simbine. Foto: Gallo Images

Ses van die sewe SA atlete wat medaljes by die Statebondspele in Australië verower het, is ingesluit. Akani Simbine, Luvo Manyonga, Caster Semenya, Wenda Nel, Henricho Bruintjies en Sunette Viljoen sal almal op 14 en 15 Julie hul slag in die Engelse hoofstad wys.

Wat dié innoverende byeenkoms onderskei van ander atletiekkompetisies, is dat elke land slegs een atleet per item mag inskryf (buiten die aflosse). Daar is ook net agt lande genooi, dus is daar nie uitdunne nie.

Daar sal ook nie langafstand-, sewekamp- of tienkamp-items aangebied word nie.

Suid-Afrika sal teen die VSA, Pole, China, Duitsland, Frankryk, Jamaika en Brittanje deelneem, met Noord-Ierland wat deel van Brittanje se span sal vorm.

Wat die mans betref, sal atlete soos Akani Simbine (100 m) en Luvo Manyonga (verspring) Suid-Afrika se groot hoop op medaljes wees.

Suid-Afrika sal ook ’n gedugte 4x100-aflosspan in die veld kan stoot, met Simbine, Rosco Engel, Simon Magakwe, Henricho Bruintjies en Clarence Munyai wat oorweeg kan word.

Suid-Afrika het ook ’n 4x100-vroueaflosspan gekies, met Carina Horn, Tebogo Mamatu, Lente Pieterse, Cassidy Williamson en Tamzin Thomas wat om vier plekke sal meeding.

Rikenette Steenkamp, wat onlangs die SA rekord in die 100-hekkies vir vroue laat spat het, is ook gekies.

Caster Semenya, wat tans nie haar gelyke het nie, is vir die 800 én 1 500 ingeskryf.

“Hierdie is ’n beproefde groep atlete,” het Aleck Skhosana, ASA se president, Woensdag gesê.

“Ons glo hulle het die potensiaal om glorie vir die land te bring.”

SA se WB-span is:

Mans: Akani Simbine (100 m en 4x100), Clarence Munyai (200 en 4x100), Derrick Mokaleng (400 en 4x400), Reinhardt van Rensburg (800), Jerry Motsau (1 500), Antonio Alkana (110-hekkies), Lindsey Hanekom (400-hekkies), Chris Moleya (hoogspring), Neil Giliomee (paalspring), Luvo Manyonga (verspring), Khotso Mokoena (driesprong), Orazio Cremona (gewigstoot), Victor Hogan (diskus), Tshepang Makhethe (hamergooi), Phil-Mar van Rensburg (spiesgooi), Rosco Engel, Simon Magakwe, Henricho Bruintjies (almal 4x100), Thapelo Phora, Pieter Conradie, Zakhitine Nene (almal 4x400).

Vroue: Carina Horn (100 en 4x100), Justine Palframan (200, 400 en 4x400), Caster Semenya (800 en 1 500), Rikenette Steenkamp (100-hekkies), Wenda Nel (400-hekkies), Julia du Plessis (hoogspring), Christy Nell (paalspring), Lynique Beneke (verspring), Patience Ntshingila (driesprong), Ischke Senekal (gewigstoot en diskus), Margo Chene Pretorius (hamergooi), Sunette Viljoen (spiesgooi), Tebogo Mamatu, Lente Pieterse, Cassidy Williamson, Tamzin Thomas (almal 4x100), Ariane Nel, Rorisang Ramonye (albei 4x400).


Meer oor:  Atletiek  |  Asa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.