
Errol Green (nr. 31) toe hy in 1987 met ’n tyd van 2:14:32 negende in die Houston-marathon in die VSA was. Foto: Facebook
Errol Green (62), wat hom in die 1970’s en 1980’s in veldloop, baanatletiek en padwedlope onderskei het, is in Niceville, in die Amerikaanse deelstaat Florida, aan ’n hartaanval dood.
Hy het die laaste paar jaar daar gewoon.

’n Meer onlangs foto van wyle Errol Green. Foto: Facebook
Green, wat op die baan aan die 1 500 m, 3 000, 5 000 en die 10 000 deelgeneem het, het in 1987 met ’n tyd van 2 uur 14 minute en 32 sekondes negende in die Houston-marathon geëindig.
Dié oudstudent van die eertydse Universiteit van Port Elizabeth het in sy eerste marathon in 1979 ’n tyd van 2:19:03 opgestel.
Hy was in 1983 vyfde in die Twee Oseane-wedloop en in 1984 sesde.

Errol Green (regs) in 1979 in George op pad om die SA veldlooptitel vir o.21-atlete in sy onderbroek te wen. Langs hom is Robert van der Merwe. Agter hulle is Abel Thlome. Foto: History of South African Cross Country, Middle and Long Distance Running and Walking
Green, wat ná sy hardloopdae onder meer redakteur van die eertydse hardlooptydskrif Running Free was, het in 1979 die SA o.21-veldloopkampioenskap in die kleure van die Oostelike Provinsie in sopnat-toestande in George met net sy onderbroek aan gewen.
Hy het tydens die wedloop sy nat hardloopbroek uitgetrek omdat dié hom gepla het.
Charl Mattheus, die Comrades-kampioen van 1997, sê toe hy in Uitenhage grootgeword het, was Green een van sy hardloophelde.
Verskeie atlete uit Green se era – onder andere Mattheus, Blanche Moila, Buks Annendale, Darren de Reuck, Nick Bester, Kevin Shaw, Craig Lambert, Aleck Riddle, Eloi de Oliveira, Carl Meyer, Nicole Fuller en Andrew Bosch – het op Facebook hulde aan hom gebring.
• Bron: History of South African Cross Country, Middle and Long Distance Running and Walking, deur Dewald Steyn.