Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
Medaljekanse in Katar lyk nie waffers

Ná ’n goue vertoning in Londen in 2017, lyk dit asof Suid-Afrika se atlete ’n skraal medalje-oes by vanjaar se Wêreldkampioenskap in Doha te wagte kan wees.

Ruswahl Samaai is een van slegs ’n paar Suid-Afrikaanse atlete wat ’n realistiese kans het om in Doha ’n medalje by die Wêreldkampioenskap te verower. Foto: Getty Images

Suid-Afrika het die vorige Wêreldbyeenkoms in die derde plek op die medaljelys afgesluit, maar nou – minder as ’n maand voordat die room van die wêreld se atlete in Katar saamtrek – is nie een van sy atlete ’n gunsteling om goud in enige van die nommers te verower nie.

In Londen was Suid-Afrika op die kruin van ’n goue tydvak, met Wayde van Niekerk (goud in die 400 m en silwer in die 200), Caster Semenya (goud in die 800 en brons in die 1 500) en Luvo Manyonga (goud in verspring) die wêreld se toonaangewende atlete in hul gunsteling-nommers.

Twee jaar later het die prentjie egter dramaties verander.

Van Niekerk het kort ná sy sukses in Londen ’n ernstige kniebesering in ’n raakrugby-wedstryd op Nuweland opgedoen en was sedertdien nog nie weer in ’n internasionale byeenkoms in aksie nie.

Hy het vroeër vanjaar in Bloemfontein na die baan teruggekeer, maar verdere skete het hom sover verhinder om op die hoogste vlak mee te ding. Hoewel hy as ’n verdedigende kampioen outomaties kwalifiseer om in Doha te hardloop, is dit onwaarskynlik dat hy in Katar sal deelneem.

Semenya, die wêreld se vinnigste atleet in die 800 vanjaar, word op haar beurt tans deur die Internasionale Vereniging van Atletiekfederasies verbied om aan die 800 of 1 500 deel te neem, tensy sy medisyne gebruik om haar natuurlike hoë vlakke van testosteroon te verminder.

Akani Simbine (links) moes Donderdagaand met ’n vyfde plek in die Diamantliga-eindronde in Zürich tevrede wees. Foto: AP

Semenya weier om dít te doen en het appèl aangeteken teen die Internasionale Hof vir Sportarbitrasie se beslissing, wat die IAAF-regulasie bekragtig.

Daar sal waarskynlik egter nie ’n uitspraak in dié saak wees voordat die Wêreldbyeenkoms wegspring op 27 September nie.

Suid-Afrika se derde gouemedalje-wenner in Londen, Manyonga, het nog nie die wêreld vanjaar aan die brand gespring nie.

Om sake vir hom te vererger, het die Kubaan Juan Miguel Echevarría Donderdagaand by die eerste eindronde van die Diamantliga in Zürich, met ’n tamaai sprong van 8.65 m losgetrek. Hiermee het hy hom as die groot gunsteling vir goud in Doha gevestig. Manyonga kon net vierde eindig met ’n sprong van 8.19 m.

Manyonga se landgenoot en bronsmedalje-wenner in die verspring in Londen, Ruswahl Samaai, het tweede in Zürich geëindig danksy ’n sprong van 8.20 m.

Dit lyk in dié stadium asof Suid-Afrika sy hoop op hom en Manyonga sal moet vestig om een of meer medaljes in Doha te verower.

Plaaslike atletiekgeesdriftiges sal ook hoop dat Akani Simbine, die Statebond-kampioen in die 100, in die komende weke sy beste peil kan herwin.

Hoë verwagtinge word van hom gekoester, maar hy het in sy laaste twee byeenkomste teleurgestel. Simbine kon in Zürich net vyfde eindig met ’n tyd van 10.10. Noah Lyles van Amerika se wentyd was 9.98.

As Simbine nie ’n medalje in die 100 verower nie, sal hy wel nog ’n kans kry om Suid-Afrika in die 4x100-aflos op die podium te help kry.

Die veteraan-spiesgooier Sunette Viljoen het natuurlik ook ’n bewese rekord in groot internasionale byeenkomste, maar geoordeel aan haar huidige peil sal sy straks nie ’n faktor in Doha wees nie. Sy het Woensdag ’n silwermedalje by die Afrikaspele in Rabat, Marokko, verower, maar haar beste afstand was ’n beskeie 53.44 m.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.