Die verspringer Luvo Manyonga, ’n silwermedaljewenner op die Olimpiese Spele in Rio de Janeiro in 2016, is voorlopig geskors omdat hy die opkikkermaatreëls van atletiek se integriteitseenheid (AIU) drie keer in 12 maande oortree het.

Luvo Manyonga, die Afrika-rekordhouer in verspring, kan vanjaar se Olimpiese Spele misloop. Foto: Getty Images
Die 30-jarige Suid-Afrikaner, wat voorheen ’n stryd teen dwelmprobleme gevoer het, kan vir twee jaar geskors word weens sy versuim om sy doen en late aan te meld.
Manyonga, die Statebondkampioen en voormalige wêreldkampioen, is een van die gunstelinge om goud te wen by die uitgestelde Spele in Tokio wat vanjaar op 23 Julie begin.
“Atlete moet akkurate en bygewerkte besonderhede oor hul doen en late verskaf om te verseker dat hulle aan maatreëls teen die gebruik van verbode middels voldoen,” sê die AIU.
Dit is ’n oortreding wanneer atlete versuim om teen ’n bepaalde spertyd aan te meld waar hulle hulself bevind, versoeke om akkurate of volledige besonderhede aan beamptes te verskaf verontagsaam, of nie beskikbaar is vir opkikkertoetse binne ’n ooreengekomde tydperk van 60 minute nie.
Volgens Wêreldatletiek se reëls teen die gebruik van verbode middels tel enige kombinasie van die bogenoemde voorskrifte binne 12 maande as ’n oortreding.
Die AIU het Manyonga op 23 Desember aangekla. Indien hy die beslissing aanvaar, kan die AIU hom met die maksimum skorsing van twee jaar straf.
As Manyonga besluit om te appelleer sal die saak deur ’n onafhanklike tribunaal aangehoor word wat sy lot sal bepaal.
Manyonga is in Mei beboet omdat hy in die openbaar gedrink het en Suid-Afrika se streng inperkingsreëls oortree het.
Hy is in 2012 vir 18 maande geskors nadat hy positief getoets is vir die gebruik van tik.
– Reuters, Sportredaksie