Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
SA se aflosblitse het geglo hulle kon wen

Toe Akani Simbine die wenstreep Sondagaand ’n skrale 0.01 sekondes voor Brasilië se Paulo Camilo de Oliveira oorsteek, het Suid-Afrika ’n nuwe awesome foursome gekry.

Dié titel kan Simbine, Clarence Munyai, Gift Leotlela en Thando Dlodlo met trots dra. Hulle is immers nou wêreldtitelhouers.

Akani Simbine steek die wenstreep eerste oor in die mans se 4 x 100 m by die Wêreld-aflosbyeenkoms in Pole. Foto: Getty Images

Dié 4 x 100-span het goud by die Wêreld-aflosbyeenkoms in Pole in ’n tyd van 38.71 gewen, met nie eens die afwesigheid van die VSA, Jamaika, Brittanje én Australië wat die vreugde gedemp het nie.

Suid-Afrika moes boonop sonder die beseerde Henricho Bruintjies en Luxolo Adams klaarkom, terwyl Wayde van Niekerk die byeenkoms ook misgeloop het omdat hy hom by sy nuwe oefengroep in die VSA aansluit.

Munyai en Leotlela het albei ook onlangs eers weer begin deelneem nadat hulle ’n ruk op die krukkelys was.

Daar is geen twyfel daaroor dat ’n heel ander uitdaging by die Olimpiese Spele in Tokio in Augustus wag wanneer die wêreld se groot kanonne aantree nie, maar Suid-Afrika sal nogtans met ’n magdom selfvertroue na die skouspel in Japan opruk.

As ’n span hard werk, glo, selfvertroue en vertroue in mekaar het, dan is daar geen grense nie.

Nadat Brasilië en Ghana, wat onderskeidelik naasbeste en derde was, albei gediskwalifiseer is omdat hulle buite hul bane getrap het, was dit eindelik ’n gemaklike sege.

Maar voordat die beamptes dié beslissing gemaak het, was die Suid-Afrikaners se vertoning ’n uitsonderlike toonbeeld van vasberadenheid.

“Ons het na Pole gekom met die doelwit om ’n medalje te wen en dit is wat ons gedoen het,” het Simbine luidens ’n verklaring gesê.

Naelskraap! Akani Simbine klop Paulo Camilo de Oliveira van Brasilië net-net op die wenstreep. Brasilië en Ghana is toe agterna gediskwalifiseer. Foto: Wêreldatletiek

Die man wat eindelik soos ’n straalvliegtuig sy teenstanders van agter ingehaal het, sê hy het nooit getwyfel oor wat in hom steek nie.

“Ek het geweet dit gaan moeilik wees. Ek het egter selfvertroue gehad, wat in my guns tel. Ek het geweet ek kan my mededingers inhaal,” het die Tukkie en Suid-Afrikaanse rekordhouer in die 100 m gesê.

“As ’n span hard werk, glo, selfvertroue en vertroue in mekaar het, dan is daar geen grense nie,” voeg Leotlela by.

Hy sê verder die weer by die kampioenskap was aaklig.

“Die temperatuur was 7 °C tydens die eindronde. Dit het ook liggies gereën, maar ons het geweet jy kan niks aan die weer doen nie,” sê hy.

“Ons moes net in mekaar vertrou en die spoed was daar. Ek dink dit was deurslaggewend vir ons in die wedloop. Ons uitdaging was om die aflosstokkie oor te gee sonder om foute te maak.”

Dlodlo sê hy sal nie omgee as hulle by elke kampioenskap kan wen nie, maar ’n mens moet ook realisties wees.

“Ons resies was ver van volmaak af. Daar is dinge waarop ons moet verbeter.”

Dit was die eerste keer dat ’n Suid-Afrikaanse 4 x 100 m-aflosspan op die podium gestaan het sedert Morné Nagel, Corné du Plessis, Lee-Roy Newton en Matthew Quinn in 2001 goud by die Wêreldkampioenskap in Edmonton in Kanada gewen het. Dit het egter eers later gevolg nadat die VSA gediskwalifiseer is toe Tim Montgomery positief vir opkikkers getoets is.

“Sondagaand se oorwinning was ongelooflik vir die span. Dit gaan daaroor om ’n wenkultuur te skep, iets wat kardinaal is in die aanloop tot die Tokio-Spele,” reken Quinn.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.