Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Atletiek
SA wen nog 5 goues in Durban
Met dapper en stapper. . . Suid-Afrika se Marc Mundell stap vroeg Sondagoggend op Durban se strandfront in die 20 km-stap. Foto: Gallo Images

Durban. – Die 20ste Afrika-kampioenskap wat Sondagaand hier ten einde geloop het, het tien nasionale rekords, ’n wêreldbeste tyd vanjaar en een Afrika-rekord opgelewer.

Suid-Afrika het op die laaste dag nog vyf goue medaljes gevoeg by die 11 wat hy oor die eerste vier dae verower het.

Dié vyf medaljes is gewen deur Caster Semenya (800), Wayde van Niekerk (200), die 4x400-vroue-aflosspan, Wenda Nel (400-hekkies) en Philmar van Rensburg (spiesgooi).

In totaal het Suid-Afrika 16 goue, nege silwer en nege bronsmedaljes gewen.

Die Keniaan Alice Aprot het die vinnigste tyd vanjaar in die wêreld in die 10 000 gehardloop.

Haar tyd van 30:26.94 Saterdagaand was boonop die vinnigste tyd ooit in dié item op die Afrika-vasteland.

Die Afrika-rekord wat verbeter is, is opgestel deur ’n ander Keniaan, Grace Wanjiru, wat haar eie vorige kerf in die 20 km-stap Sondagoggend met sowat vier minute aan flarde gestap het.

Haar wentyd in ideale weer op die baan langs die Durbanse strandfront was 1:30:43. Dít is ’n tyd van wêreldgehalte.

Anél Oosthuizen (1:38:46), die SA kampioen en rekordhouer, was vierde.

Samuel Gathimba, ook ’n Keniaan, het die wedloop vir mans in ’n baie haastige 1:19:24 gewen.

Suid-Afrika se Lebogang Shange (1:21:41) het die bronsmedalje losgestap.

Nel het die 400-hekkies vir vroue maklik gewen in 54.86.

“Dit was ’n lekker wedloop en ek het deurentyd in beheer gevoel. Ek is gelukkig, want goud is goud en ek het onder 55s gehardloop,” het Nel, wat later ook lid van die seëvierende 4x400-aflosspan was, gesê.

Dié span het die SA rekord tot 3:28.49 verbeter.

In die 4x400-aflos vir mans het Suid-Afrika (3:04.73) ’n bronsmedalje gewen.

Alyssa Conley, die SA kampioen, het in die 200 die eerste keer in haar loopbaan ’n tyd van vinniger as 23 s (22.84, wind: 1.2 m/s) aangeteken en silwermedalje gewen.

Die Ivoorkus se Marie Josee Ta Lou het gewen in 22.81.

“Ek is baie bly ek kon uiteindelik onder 23 s hardloop, maar ek het vandag om die draai gesukkel,” het Conley, wat deur die oud-naelloper Morné Nagel afgerig word, gesê.

Van Rensburg het die goue medalje in die spiesgooi met ’n afstand van 76.04 gewen.

In een van die laaste items van die aand het Elroy Gelant, die SA rekordhouer, die silwermedalje in die 5 000 met ’n tyd van 13:15.13 losgehardloop.

Die Keniaan Douglas Kipserem (13:13.35) was net te vinnig vir hom oor die laaste rondte.

Patience Ntshingila het die bronsmedalje in die driesprong vir vroue gewen met ’n afstand van 13.24.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.